Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 14th February 2024

Brande: Volg raad en wees gereed, waarsku minister

By 8 min read

WK 4 wingerdbrande

Die omvang van die skade wat vanjaar deur veldbrande in die Wes-Kaapse Wynland veroorsaak is, is nog nie bepaal nie. (Bron: Verskaf)

Die verwoestende veldbrande wat die afgelope ruk in die Wes-Kaap gewoed het, het dr Ivan Meyer, die minister van Landbou in die provinsie, die week genoop om ’n ernstige waarskuwing aan boere te rig om maatreëls te tref om hulle eie en die lewens van hulle werkers en vee, hulle oeste en infrastruktuur teen veldbrande te beskerm.

Sedert 1 Desember verlede jaar tot 31 Januarie vanjaar het daar reeds 6 429 veldbrande voorgekom en na raming is 103 262 hektaar verwoes. Die presiese omvang van die skade is nog nie bepaal nie.

Die provinsie se begroting van R19-miljoen vir die bekamping van veldbrande is opgebruik en Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, het die nasionale rampbestuursentrum genader om die veldbrande as nasionale ramp te verklaar. Indien dit gebeur, kan bykomende geld vir die doel beskikbaar gemaak word. “Ons sal aanhou om brandbestryding te doen al word die brande nie as ramp verklaar nie,” gee Wouter Kriel, Anton se woordvoerder, die versekering.

Ivan sê hy is bekommerd oor die boere en hulle werkers wat aan strawwe klimaatstoestande blootgestel word.

“Klimaatsverandering het ’n dramatiese uitwerking op ons weerpatrone en uiterste toestande hou gevaar in vir ons werkers en produsente. Ek doen ’n beroep op almal in die landbousektor om die nodige stappe te doen om die invloed van hierdie ekstreme hittetoestande en brande te beperk.”

Hy raai boere aan om ag te slaan op tydige waarskuwings wat deur die nasionale regering in samewerking met die Suid-Afrikaanse Weerdiens verskaf word.

Slaan ag op waarskuwings

Ashia Petersen, direkteur: Volhoubare Hulpbronbenutting en -bestuur van die Wes-Kaapse Landboudepartment,verskaf die volgende raad ingeval toestande vir brandgevaar voorspel word.

Die Wes-Kaapse regering het in November 2023 ’n samewerkingsooreenkoms met die Universiteit Stellenbosch se Skool vir Klimaatstudie onderteken. Agter:Anton Bredell (Wes-Kaapse minister van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning), prof Sibusiso Moyo (adjunkvisekanselier van Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Universiteit Stellenbosch), dr Ivan Meyer (Wes-Kaapse minister van Landbou);
Voor: Gerhard Gerber (departementshoof, Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning), prof Louise Warnich, (dekaan, Wetenskap), dr Mogale Sebopetsa (departementshoof, Departement van Landbou) (Bron: Verskaf)

 Wees gereed

Wanneer die brandseisoen sy piek bereik, is dit noodsaaklik om geen oop vure toe te laat nie. Dit is belangrik om brandbeheerkomitee saam te stel wat ’n alarmstelsel, brandbestrydingspanne en ’n brandplan het om die uitwerking van die brand te beperk. Dit is baie belangrik om die kontakbesonderhede van die naaste brand- en nooddienseenheid byderhand te hê.

Landbougemeenskappe moet brandbeskermingsverenigings skep wat veldbrande kan voorkom en beheer soos vereis deur die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande Nr 101 van 1998.

Die Wet op Brandweerdienste verskaf riglyne vir die stig, koördinasie en standaardisering van brandweerdienste.

Versorg jou vee

Wanneer ’n brand uitbreek, moet boere hulle vee uit die weiveld na die veiligheid van ’n omgeploegde land verskuif.

Indien daar nie genoeg water beskikbaar is nie, kan sand of grond op die vuur gegooi word om die vlamme te blus.

Maak seker daar is nie brandbare materiaal in die brandbaan wat die vlamme kan versprei nie.

Beperk hittespanning

Volgens Ashia kan diere hittespanning beleef wanneer dit uitermate warm is en die diere nie genoegsaam kan afkoel nie. Dit kan die diere se gesondheid en produksie beïnvloed en uiteindelik ook ’n uitwerking op reproduksie hê.

Sedert 1 Desember verlede jaar tot 31 Januarie vanjaar het daar reeds 6 429 veldbrande voorgekom en na raming is 103 262 hektaar verwoes. (Bron: Olifantsberg Landbouvereniging Facebook)

Sy raai vee- en saaiboere aan om:

  • die diere wat die vatbaarste vir hittespanning is te identifiseer
  • ’n aksieplan in plek hê om hittespanning te behandel
  • sorg vir genoeg drinkwater
  • skuif die voedingstyd na laatmiddag of vroegaand
  • verskaf skaduwee indien moontlik – dit help as daar ’n luggie trek
  • koel die grond af waarop die vee staan of lê deur hooi te strooi
  • beheer vlieë so goed as moontlik
  • moenie die beeste aan aktiwiteit blootstel op die hitte van die dag nie.
  • neem kennis van kort- en langtermyn weervoorspellings en hou ’n afskrif van die temperatuur/humiditeit-indekskaart byderhand
  • verseker vee en oeste teen geldelike verliese weens hittespanning
  • beperk verdamping van water deur vroegoggend te besproei.
  • kies hitte- en droogtebestande oeste wat vir die gebied waar jy boer geskik is
  • gebruik ’n deklaag om verdamping te beperk.

In September 2023 is groot skade deur swaar reën en oorstromings in groot dele van die Wes-Kaap aangerig. (Bron: Verskaf)

Klimaatsverandering ’n werklikheid

Volgens Ivan erken die Wes-Kaapse Landboudepartement die uitwerking van klimaatsverandering en rampe op die landbou.

“Die toename in intensiteit en voorkoms van rampe noop die Departement om te fokus op vermindering van risiko’s en op strategieë wat die uitwerking kan versag. Die Departement sal voortgaan om nou saam te werk met die distrik- en provinsiale rampbestuursentrums en georganiseerde landbou om te verseker dat boere die nodige ondersteuning kry wanneer hulle deur rampe getref word.”

Die Wes-Kaap as landboustreek word al geruime tyd deur droogtes, oorstromings en swaar haelstorms, asook veldbrande, geteister. In die lig hiervan het hy die Wes-Kaapse kabinet versoek om klimaatsverandering as ’n saak van dringendheid en ’n prioriteit permanent op hulle agenda te plaas.

Volgens Ivan is klimaatsverandering lankal nie meer ’n mite nie; dit is iets wat reeds gebeur. “’n Paar jaar terug was ek op ’n Droogtetoer deur die Klein-Karoo op ’n plaas waar dit sewe jaar laas gereën het – ek het gesien hoe die boer se vee vrek lê op die plaas.” Maar nie net diere ly nie; verlede jaar het ses plaaswerkers in die Noord-Kaap gesterf weens blootstelling aan uiterste hitte.

“Die boere ervaar klimaatsverandering in die verskuiwing in klimaatspatrone wanneer daar nie water vir hulle vee of landerye is nie. Landbou en die hele waardeketting, wat verwerking insluit, is afhanklik van watersekerheid. Ons sien sekere goed net nie meer op winkelrakke nie …”

Die Landboudepartement ’n interministeriële komitee aangestel wat help om klimaatslimplanne te maak in ‘n poging om die krisis die hoof te bied.

Die Klimaatslim Strategie is reeds in 2016 bekend gestel en bied ’n padkaart vir die landbousektor – die Departement en die boere – waarvolgens meer veerkragtig teen klimaatsverandering opgetree kan word. Die planne sluit ook opgedateerde klimaatsdata in wat rolspelers in die landbou kan help om ingeligte besluite te neem.

Bewaringslandbou

“Ons moet toenemend fokus op bewaringslandbou,” sê Ivan. “Daar moet op goeie waterbestuur en ekologiese infrastruktuur gefokus word en ons moet planne beraam om die landbousektor teen klimaatsverandering en die geldelike uitwerking daarvan te beperk.”

In Julie en weer in September 2023 het swaar reën in verskeie streke van die Wes-Kaap miljoene rande se skade aan rivierinfrastrukture, oeste en ook verlies van grond veroorsaak.

“Die Wes-Kaapse regering het aansoek gedoen dat die vloedskade deur die nasionale regering as ’n ramptoestand geklassifiseer word. Uiteindelik is R114-miljoen van die meer as R700-miljoen waarvoor aansoek gedoen is, deur middel van die Nasionale Rampbestuursdepartement deur die Nasionale Tesourie aan die Wes-Kaap toegeken.” Die bykomende geld sal help dat herstelwerk aan infrastruktuur wat reeds deur die Departement en met die boere se hulp gedoen is voortgesit kan word.

Skool vir Klimaatstudie

As deel van die Wes-Kaapse regering se voortgesette verbintenis om ’n sterk klimaatbestande toekoms vir die provinsie te verseker, het die Departemente van Landbou en van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning in November verlede jaar ’n memorandum van ooreenkoms met die Skool vir Klimaatstudie van die Universiteit Stellenbosch onderteken.

Die Skool, wat in 2021 tot stand gekom het, werk saam met die universiteit se verskillende departemente, die regering en die private sektor om ’n oorgang na ’n klimaatbestande samelewing en ’n volhoubare laekoolstof-ekonomie te bewerkstellig.

Volgens Ivan en Anton, medeleiers van klimaatsveranderingbestuur in die Wes-Kaap, getuig die ondertekening van dié ooreenkoms van die Wes-Kaapse regering se strewe na veerkragtigheid teen klimaatsverandering.

“Droogtes, vloede en hittegolwe sal meer gereeld word, en hierdie tendense beklemtoon die behoefte aan ’n gekoördineerde reaksie van die regering, tersiêre instellings, die private sektor en die hele samelewing om die impak van klimaatsverandering te versag,” het Ivan tydens die ondertekening gesê.

Anton het beklemtoon dat ooreenkoms ’n bemagtigende platform sal bied om plaaslike en internasionale navorsings- en kapasiteitsbougeleenthede (insluitend gesamentlike projekte) na te streef om die kennisbasis oor klimaatsverandering in die Wes-Kaap te bou.

Oorstromings in Julie 2023 het groot skade aan wingerde en sitrusboorde op die oewers van die Oranjerivier veroorsaak. (Bron: Gideon van Zyl)

Mediterreense Landbouforum

Ivan is ook trots om aan te kondig dat sy departement saam met Kalifornië en drie ander lidlande in die Mediterreense streek tydens COP28 in Desember in Dubai ’n ooreenkoms vir ‘n Mediterreense Landbouforum onderteken het. “Die vyf gebiede wat deel vorm van die Mediterreense streek sal kundigheid uitruil wat kan bydra tot wêreld-voedselsekerheid.”

9de Wêreldkonferensie oor Bewaringslandbou

Hy is ook trots daarop om aan te kondig dat die 9de Wêreldkonferensie oor Bewaringslandbou later vanjaar in Kaapstad aangebied word.

Bronverwysings

Dr Ivan Meyer oor Klimaatsverandering. Grootplaas

https://www.youtube.com/watch?v=AFDjUF5wQB4

Steenkamp, E. (2021) Stephanie Midgley joins the Smartagri team. Hortgro

https://www.hortgro.co.za/news/stephanie-midgley-joins-the-smartagri-team/

Redaksie (2024) Nog ’n moeilike nag van brandbestryding agter die rug (2024) Netwerk24

https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/nog-n-moeilike-nag-van-brandbestryding-agter-die-rug-20240201

 

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment