Brande-in-die-Weskaap
Mnr Russel Metcalf, ‘n inwoner van ‘n kothuis op ‘n plaas naby Stanford moes inderhaas die huis ontruim nadat ‘n massiewe bos- en veldbrand in die Kleinrivierberge ontstaan het.
Nie net die vuur nie, maar ook ‘n swerm bye het die huis bedreig. Die brandweer bestry reeds van vroeg af die vuur wat in die beboste gebied in Thesselaarsdal ontstaan het. ‘n Sterk wind het die vuur bo-oor die Kleinrivierberge aangedryf. Volgens mnr Craig Templar, mnr Metcalf se buurman, het die vuur baie vinnig nadergekom, maar die brandweer het hom verseker dat die situasie onder beheer is.
Dik rookwolke het die area omring en verkeersowerhede moes die R43-pad monitor toe die vuur oor die Kleinrivierberge af versprei het. Geen mense of geboue is bedreig nie.
‘n Veldbrand wat buite beheer was het egter die naweek twee strukture in die Boland beskadig. Die brand het Saterdag in die Slanghoek-vallei naby Worcester ontstaan. Die Bainskloof-bergpas tussen Wellington en Ceres is gesluit weens swak sigbaarheid. Geen beserings of lewensverlies het voorgekom nie en die oorsaak van die brand is steeds onduidelik.
Bron: Die Burger