Bono skuld die boere ‘n verskoning
Die Ierse popster, Bono, se argument dat die strydlied, “Skiet die Boer” wel in ‘n sekere konteks gesing mag word, is naïef en onaanvaarbaar. Dr Pieter Mulder, die adjunk-minister van Landbou en leier van Vryheidsfront Plus sê met sy uitlating toon Bono dat hy duidelik geen begrip vir die Suid-Afrikaanse samelewing het nie en skuld hy ons ‘n verskoning.
Dr Mulder het aan ProAgri gesê ’n baie groot deel van die skare wat ten duurste betaal om Bono se konserte hier by te woon, is ook dieselfde mense wat deur die “skiet die Boer”-lied geteiken word.
“Dit is arrogant en voortvarend van my as Suid-Afrikaner om my uit te laat oor die ingewikkelde politieke konflik in Noord-Ierland. Tog doen Bono as buitelander presies dit en voeter in die Suid-Afrikaanse debat oor “shoot the Boer” in sonder om die vaagste benul te hê oor presies waaroor hierdie debat werklik gaan,” het dr Pieter Mulder gesê.
Hy sê die enigste konteks waarbinne die lied verstaan kan word is dat jong mense, wat min van die “struggle” weet omdat hulle daarna gebore is, die lied sing terwyl daar weekliks boere doodgemaak word en geweld en moord deel van die samelewing geword het. Watter ander betekenis kan die woorde “skiet die boer” binne hierdie konteks hê?