Boere word al minder
Die aantal kommersiële boere in Suid-Afrika kan oor die volgende 15 jaar van 40 000 na 15 000 verminder. Ernst Janovsky, hoof van ABSA AgriBesigheid sê in 1980 was daar ongeveer 128 000 kommersiële boere. Die getal het teen 1997 tot 58 000 verminder en vandag is daar net minder as 40 000 boere. Mnr Janovsky het op ‘n geleentheid van Agri Kwazulu-Natal gesê daar is voorspellings dat die getal tot 15 000 kan verminder.
Die vermindering in die getal kommersiële boere bring nie net voedselsekerheid in gedrang nie, maar ook werksgeleenthede op die platteland waar landbou die enigste groot werkverskaffer is.
Suid-Afrika was vroeër ‘n netto uitvoerder van voedsel, maar die prentjie het in 2007 verander toe die land vir die eerste keer meer kos ingevoer as uitgevoer het. Volgens georganiseerde landbou is die oorsaak van die agteruitgang in Suid-Afrikaanse landbou tweeledig: Die aanhoudende verhoging in insetkoste sonder groeiende winsneming en die hoë vlak van onsekerheid met betrekking tot regeringsbeleid oor kwessies rakende landbou, soos grondhervorming.
Mnr Janovsky sê: “Ons is nie besig met aanvalle op die regering nie. Ons beveg hulle nie.” Hy sê al wat boere wil weet is wat die beleid is en wat die reëls is, sodat almal vorentoe kan beweeg.
Die provinsiale landbou-unie se bestuurder, Sandy la Marque, sê daar was ‘n sterk afname in die getal klein en kommersiële boere in Kwazulu-Natal. Een van die hoofredes is die grondeise wat nog nie afgehandel is nie. Sy sê: “As mense nie seker is wat die status van die grond is nie, wil hulle ook nie daarin belê nie.”
Nog ‘n groot probleem is die hoë voorkoms van veediefstal in die provinsie. Boere ly miljoene rand se verliese.