Boere-skenk-mildelik-aan-mense-wat-swaar-kry
Groente, vrugte, eiers en vleis is die naweek deur die VF Plus aan meer as 2300 inwoners van die Wesmoot in Pretoria as ’n vroeë kersgeskenk gegee. Die party het dit gedoen met die hulp van boere van die Witriviergebied in Mpumalanga. Dit was die grootste voedsel-verspreidingsaksie nog in die geskiedenis van die Wesmoot. ’n Groot aantal inwoners van hierdie gebied woon in tydelike konstruksies en Wendyhuise in ander se agterplase.
“Almal praat oor armoede maar min doen iets daaraan. Ons moet ophou om net oor Kersfees se boodskap van liefde en omgee vir mekaar te praat en eerder elkeen begin om binne sy vermoë iets daadwerklik daaraan te doen,” het dr Pieter Mulder, VF Plus leier en Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye as deel van sy Kersboodskap tydens die geleentheid gesê.
Vier vragmotors is gebruik om die meer as 24 ton voedsel vanaf Witrivier in Mpumalanga na Pretoria te vervoer. Die voedsel is deur agt boere, wat verkies om anoniem te bly, geskenk. Die VF Plus het onder leiding van mnr Philip van Staden, die party se streeksleier in Pretoria en mev Jenny Schoeman in Witrivier die poging georganiseer en gekoordineer. Dr Mulder het sy dank teenoor almal wat betrokke is uitgespreek.
“Mense sê so maklik dat ons nie in Suid-Afrika kan saamwerk nie. Hier is ’n voorbeeld van hoe daar saamgewerk is tot almal se voordeel,” het dr Mulder gesê.
Caroline Bosch en Pieter Strydom het as plaaslike Pretoria kunstenaars die mense gratis vermaak terwyl daar ook ’n nar was om die kinders besig te hou.
Teen tienuur die oggend was die laaste vragmotor afgelaai en het dit tot na drie-uur die middag geneem om gelyke hoeveelhede kos aan die lang tou mense uit te deel.
“Skenkings soos hierdie is ongelukkig net ’n tydelike oplossing vir hierdie mense se probleme. Opheffingswerk, opleiding en die afskaffing van regstellende aksie is van die oplossings wat kan help om hierdie mense permanent te help” volgens dr Mulder.