Categories: NewsPublished On: 26th January 2012

Boere plant aansienlik meer mielies

By 3 min read

Voorlopige syfers van die Oesskattingskomitee dui daarop dat boere hierdie seisoen sowat 12% meer mielies as die vorige seisoen geplant het. Die Komitee waarsku egter in sy verslag dat die syfers nog kan verander sodra inligting van die vlugopnames van die Produsente Onafhanklike Oesskattingstelsel (PICES) verkry word.

Die voorlopige oppervlakteskatting is gegrond op die resultate van ‘n nie-ewekansige opname onderneem deur Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en weerspieël die situasie teen die middel van Januarie 2012.

Daar was nie goeie reaksie van produsente op die gereelde opname nie. Die hersiene aangeplante area en produksiesyfers sal deur die Oesskattingskomitee op 28 Februarie 2012 vrygestel word.

Kommersiële mielies:

Die voorlopige skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,63 miljoen ha, wat 10,87% of 257 900 ha meer is as die 2,37 miljoen ha wat verlede seisoen aangeplant is, maar ook 1,08% meer as die voornemens om te plant-syfer van 2,60 miljoen ha soos vrygestel in Oktober 2011.

Die oppervlak onder witmielies is 1,59 miljoen ha, wat ’n toename van 12,12% of 171 900 ha verteenwoordig vergeleke met die 1,42 miljoen ha die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 1,04 milj. ha, 9,01% of 86 000 ha meer as die 954 000 ha geplant die vorige seisoen.

Ander somergewasse:

Die voorlopige oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 515 000 ha, wat omtrent 19,87% minder is as die 642 700 ha aangeplant die vorige seisoen.

Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 480 000 ha, wat ’n toename van 14,83% verteenwoordig vergeleke met die 418 000 ha geplant die vorige seisoen. Hierdie is die hoogste oppervlakte nog ooit beplant met sojabone.

Vir grondbone is die oppervlakteskatting 46 000 ha, wat 16,59% minder is as die 55 150 ha geplant vir die vorige seisoen.

Die oppervlakteskatting vir sorghum het gedaal met 30,64%, van 69 200 ha tot 48 000 ha teenoor die vorige seisoen.

In die geval van droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 4 700 ha of 11,22% minder as die 41 900 ha die vorige seisoen geplant.

Die huidige weerstoestande kan nog ’n invloed uitoefen op die finale oppervlaktes beplant vir all gewasse.

Wintergewasse – 2011 produksie-seisoen

Koring: Die produksieskatting vir koring is opwaarts aangepas met 76 750 ton tot 1,85 miljoen ton, wat 4,33% hoër is as die 1,77 miljoen ton van die vorige skatting. Die oppervlakte beplant met koring is onveranderd gelaat op 604 700 ha. Die gemiddelde opbrengs vir koring is 3,06 t/ha.

Die toename in die verwagte produksie van koring kan hoofsaaklik toegeskryf word aan beter as verwagte opbrengste, sowel as dat produsente lewerings, soos gemonitor deur SAGIS, hoër is as die geskatte oes.

Die verwagte produksie van koring is onder andere opwaarts aangepas vir die Wes-Kaap met 13 250 ton of 2,08%, vir die Vrystaat met 56 250 ton of 11,63%, en vir die Noord-Kaap met 2 100 ton of 0,77%. Aanpassings is ook in sommige van die ander provinsies gemaak.

Ander gewasse: Die produksieskatting vir moutgars is ook opwaarts aangepas na 300 910 ton, wat 16 760 ton of 5,9% hoër is as die 284 150 ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting is onveranderd gelaat op 80 150 ha, terwyl die verwagte opbrengs 3,75 t/ha beloop.

Die verwagte kanola-oes is onveranderd gelaat op 59 490 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is ook onveranderd gelaat op 43 510 ha, met ʼn verwagte opbrengs van 1,37 t/ha.

 

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment