Categories: NewsPublished On: 6th July 2011

Boere-opgeroep-om-te-help-met-renostervoëls

By 4 min read

Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe het boere gevra om te help met die hervestiging van renostervoëls. Die Trust vang jaarliks rooibekrenostervoëls en hervestig hulle dan in gebiede waar hulle in die verlede uitgesterf het. Indien daar boere is wat weet dat daar ‘n oorvloed rooibekrenostervoëls op hulle plaas is, kan hulle net vir Arnaud le Roux skakel by 082-325-6578 of ‘n e-pos stuur aan oxpecker@ewt.org.za.

Die Trust het die volgende interessante agtergrond oor die voëls beskikbaar gestel:

Twee van Afrika se mees interessante voëls, die geelbekrenostervoël Buphagus africanus en die rooibekrenostervoël Buphagus erythrorhynchus het ‘n lang en onsekere verbintenis met die mens. Hierdie voëls word in assosiasie met groot diere soos die artiodaktiele (antilope, wilde beeste) en perissodaktiele (perde, renosters) gevind wat die voëls se voedselbron van bosluise in genoegsame voorraad dra om hulle te onderhou. Hierdie simbiotiese verwantskap tussen die groot diere van Afrika en die twee renostervoëls bestaan reeds deur eeue heen, maar is amper in die 20e eeu vernietig as gevolg van die inmenging deur die mens in die natuurlike verwantskap tussen die voëls en hulle prooi.

Beeste wat meestal uit die Europese Bos taurus geteel is, is uit Europa deur pioniers en setlaars na Afrika gebring. Omdat die diere in die matige klimaat van Europa geteel is, was hierdie Bos taurus afstammelinge nie opgewasse teen die “klein roofdiertjies” van Afrika nie. Plae soos die tsetsevlieg, riviermuggie en verskeie bosluise het hulle tol van die Europese beeste geëis. Beeste wat aan die mense van Afrika behoort het is aan hulleself oorgelaat sodat natuurlike seleksie weerstandbiedende diere geproduseer het, terwyl die Europese rasse swaar onder die aanslag van die plae en parasiete van Afrika gebuk gegaan het.

Vir renostervoëls was die beeste niks anders as die wilde Afrikadiere wat hulle kos verskaf het nie en hulle het op die beestroppe met hul bosluise en larwes toegesak om die voedselbron te benut. Ongeag die diens wat die renostervoëls gelewer het, het die Europese beeste wat nie so ‘n goeie weerstand teen bosluise en bosluisoorgedraagde siektes soos die wilde diere gehad het nie, aan hewige bosluisbesmettings en bosluisoorgedraagde siektes gely. Voortdurende seleksie vir beter en groter diere vir verbeterde produksie het die beeste se weerstand verder verswak en glad nie tot gesonder kuddes bygedra nie.

Die ontwikkeling van plaagdoders het die wêreld in ‘n tydperk van ongekende landbou-ontwikkeling ingestuur as gevolg van die mensgemaakte middels wat meeste plae op oeste en diere kon beheer. Gedurende die middel van die 20e eeu het dieredipstowwe vinnig ontwikkel.  Arseenmiddels is deur organochloorprodukte en organofosfate vervang en uiteindelik het die peritroiëde, amidiene en makrosikliese laktone gevolg wat tans regoor die aarde gebruik word. Dieredipstowwe het niks anders as ‘n fiasko vir renostervoëls ontketen nie. Arseen-, organochloor- en organofosfaatdipstowwe het renostervoëls swaar getref en ander nuttige spesies het ook daaronder gelei.  Die geelbekrenostervoël het reeds vroeg in die eerste helfte van die 20e eeu in Suid-Afrika uitgesterf, terwyl die rooibekrenostervoël net-net in ‘n paar areas oorleef het.

Die ontwikkeling van peritroiëd- en amidienakarisiede het nuwe hoop vir renostervoëls laat opvlam. Hierdie chemikalieë het ‘n baie lae toksisiteit vir die voëls en is beslis meer aanvaarbaar as die akuut-giftige organofosfate.  Geelbekrenostervoëls het reeds die noordoostelike dele van die land inbeweeg en word redelik algemeen in die Nasionale Krugerwildtuin aangetref.  Rooibekrenostervoëls is wyer verspreid en word in die Limpopo, Noordwes, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Gauteng, Oos-Kaap en die Noord-Kaap provinsies van Suid-Afrika aangetref. Getalle is baie minder as wat dit was voordat die chemiese beheer van bosluise begin het, maar dit wil voorkom asof daar hoop vir die toekoms van hierdie nuttige voëls is.
         
Renostervoëls kan een van wild- en beesboere se grootste natuurlike vennote wees. Dit is uiters belangrik om die voëls die beste kans op oorlewing te gun deur bosluisbesmettings korrek te bestuur met behulp van die korrekte produkte en bestuursbeginsels. Inligting oor die middels en beginsels kan ook by Arnaud le Roux aangevra word by oxpecker@ewt.org.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0