Boere-moet-hulleself-beveilig-na-Malema-se-uitsprake
Dr Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront-Plus en adjunkminister van Landbou, het boere gewaarsku om hulleself te beveilig nadat die ANC-jeugleier, Julius Malema, gedreig het om boere se grond te steel.
Malema het Sondag by die afsluiting van dié liggaam se verkiesingskonferensie opnuut beloof om “grond sonder betaling” te vat.
“Daar is geen manier waarop jy diplomaties kan wees oor die kwessie van grond nie. Ons sal nooit diplomaties oor gewillige koper, gewillige verkoper wees nie. Dit het gefaal,” het hy aan afgevaardigdes gesê.
Hy het gesê die ANC het by sy “Polokwane”-verkiesingskongres in Desember 2007 erken daar moet ‘n alternatief vir die beleid van gewillige koper, gewillige verkoper gevind word.
“Julle het daarin gefaal om ‘n alternatief te vind. Ons moet die grond sonder betaling vat,” het Malema gesê.
Hy het gesê die afgevaardigdes wat die vier dae lange konferensie bygewoon het, is “gereed om die wit monopolie-kapitaal” te konfronteer.
Dr Mulder sê die Jeugliga se standpunte is nie regeringsbeleid nie en kan nie deur die VF-Plus en die boeregemeenskap aanvaar word nie. Hy sê die klimaat wat deur hierdie soort opmerkings geskep word, kan tot meer aanvalle en moorde op plase aanleiding gee. Daarom het hy ‘n beroep op boere gedoen om hulleself te beveilig en by gemeenskapsveiligheidstrukture betrokke te raak.
Dr Mulder sê Malema se uitsprake oor grondeienaarskap neem die land terug na die tydperk voor 1994 toe geweld en sprake van ‘n burgeroorlog deel van die politieke landskap was. Hy sê daar is geen verskil tussen die jeugleier se siening oor grond en dié van president Robert Mugabe van Zimbabwe nie.
Hy sê as Malema nie so oorweldigend herkies is as president van die jeugliga nie, kon ‘n mens nog sy stellings oor grond en myne ignoreer. Die vraag is egter of dit ‘n blik op die toekoms gee. Hy het benadruk dat die VF-Plus en die land se kommersiële boere geen grondgrypery sal duld nie. Die party sal ook aandag gee aan gebeurlikheidsplanne soortgelyk aan dié wat voor 1994 gereed gehou is. (Bron: news24)