Boere-in-Natal-kry-meer-vir-melk
Midlands Milk, ‘n melkmaatskappy in KwaZulu-Natal wat aan boere behoort, het ‘n 10 sent per liter verhoging in hulle produsenteprys met ingang van 1 Julie aangekondig. Die MPO sê in sy jongste nuusbrief melkprodusente in KwaZulu-Natal het hierdie aankondiging verwelkom, omdat dit effense verligting sal bring aan boere wat hard getref is deur verhogings in voerpryse en energiekoste. Volgens dr Koos Coetzee, MPO-ekonoom, is dit ‘n goeie teken, aangesien al die makro-veranderlikes op hoër produsentepryse dui. Insetkoste het verhoog, melkproduksie is op ‘n laer vlak as ‘n jaar gelede en SAMPRO het onlangs robuuste groei in die mark vir suiwelprodukte aangekondig. Internasionaal is pryse aansienlik hoër as ‘n jaar gelede, terwyl voorrade baie laag is. Al hierdie faktore dui op ‘n verhoging van Suid-Afrikaanse produsentepryse. Dr Coetzee sê melkkopers wat hulle melkvoorraad wil verseker, sal die regte stap neem deur Midlands Milk se voorbeeld te volg.
Die MPO berig ook in sy nuusbrief dat voedselsekerheid hoog op die sakelys was op die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) se onlangse konferensie in Rome. Mev Tina Joemat-Petterson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het gesê dat verdere ontwikkeling en inwerkingstelling van programme in landbou en landelike ontwikkeling nodig is om volhoubare produksie en wêreldvoedselsekerheid te bevorder. Volgens haar is die hoogste prioriteite steeds beter markinligting, toegang tot markte, groter beleggings in navorsing, tegnologiese ontwikkeling en infrastruktuur.
Die jaarlikse World Dairy Expo wat in Madison, Wisconsin in die VSA gehou word, is die grootste en mees bekende internasionale tentoonstelling van sy soort, en word hierdie jaar van 4 tot 8 Oktober gehou. Die kommersiële skou-arena huisves uitstallings van die nuutste tegnologie en toerusting, rekenaartegnologie en bestuursisteme. Toptelers van regoor die wêreld ding ook mee vir verskeie Amerikaanse en internasionale skou-pryse. Ongeveer 65 000 besoekers word verwag en 775 maatskappye neem as uitstallers en borge aan die geleentheid deel. Boere wat belangstel om die geleentheid by te woon, kan vir Sarine Wolmarans by 012-843-5600 skakel of stuur ‘n e-pos aan sarine@agrivia.co.za.