Categories: NewsPublished On: 12th January 2011

Boere-hou-asem-op-vir-vloede

By 2 min read

“Net die liewe Heer kan die water in die Oranje beheer,” sê mnr Johan van Rensburg, die uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap. Dit volg nadat mev Tina Joemat-Petterson, die minister van landbou gesê het die owerhede het die afgelope week die watervlak in die Oranjerivier goed beheer. Sy het wel haar kommer uitgespreek oor vloede uit die Vaalrivier en gesê die regering kyk na die moontlike verklaring van rampgebiede.

Volgens mnr Van Rensburg verwag boere langs die Oranjerivier stroomaf van Douglas en selfs ‘n ent stroomop dat die watervlak eers teen Vrydag werklik sy piek gaan bereik. Hy sê wat hulle werklik bekommer is dat die inligting oor die verwagte watervlak nie akkuraat is nie.
 
Hy sê die syfers klop nie. Die watervlak wat deur die departement van waterwese bereken word en dit wat die boere ervaar, verskil aansienlik. Die landbou-unie het vier voorstelle aan die minister van waterwese voorgelê om die situasie in die toekoms te verbeter:
  1. Strategieë rondom die loslating van water uit damme moet nagegaan en aangepas moet word. Sou voorspellings van baie reën gemaak word, moet die damme se vlakke voortydig laat sak word om massas water te voorkom. 
  2. Meer doeltreffende meetstasies moet in die riviere aangebring word. Tans is daar net drie meetstasies in die Oranjerivier tussen Douglas en Upington, en ten minste ses word benodig.
  3. Projeksies van die in- en uitvloei van water van damme moet verfyn word.
  4. ‘n Doeltreffende rampstrategie en -hulpplan moet opgestel word.
Ondertussen hou boere asem op en wag vir Vrydag se waterpiek. Volgens mnr Van Rensburg is die noodwalle langs die rivier op plekke reeds ‘n halwe meter te laag. Besproeiingsboere se oeste word bedreig – dit sluit druiwe vir wyn en droging, mielies, katoen en ‘n verskeidenheid ander gewasse in.
 
Die skade word reeds op R88-miljoen beraam. 
Ironies genoeg is reën binne die volgende week nodig – veral vir die mielies en katoen wat nou in ‘n ontwikkelingstadium is. Aangesien die boere hulle pompe uit die rivier moes trek, kan hulle nie besproei nie. 
 
“Dit moet net nie in die bo-lope reën nie,” sê mnr Van Rensburg.
 
In- en uitvloei van damme
 
Die Vanderkloofdam is tans113% vol met ‘n uitvloei van 2430 kubieke meter per sekonde. By die Gariepdam vloei sowat 2 300 kubieke meter water per sekonde uit en die dam is 117% vol. 
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0