Categories: NewsPublished On: 21st July 2010

Boere-duisende-rande-armer-agv-veediefstal

By 2 min read

Volgens die adjunk-minister van Landbou, Pieter Mülder, word tienduisende beeste, skape en bokke regoor die land gesteel. Mülder het die tydens ‘n debat oor sy department se begrotingsrede in die Nasionale Vergadering gesê dat daar gedurende 2009 34 000 beeste; 28 000 bokke en 60 000 skape met ‘n totale waarde van R366m gesteel is. Dit sluit gesteelde vee wat deur die Polisie se Veediefstaleenheid teruggevind is, uit. Dié syfers is saamgestel uit veediefstalsake wat wel aangemeld is.

Intussen is twee mans in die Bronkhorstspruit-distrik in hegtenis geneem nadat hulle met gesteelde beeste aangekeer is. Daar word vermoed dat hulle moontlik deel van ‘n veediefstalsindikaat kan vorm. Volgens die Polisise se Adjudant-offisier, Jaco Corbett, is die mans met agt gesteelde beeste in hul besit betrap. Die mans kan moontlik by meer diefstalsake betrokke wees en die Polisie is op soek na nóg twee verdagtes.

Sestien beeste is onlangs van Mnr Dries Olivier, ‘n boer van die omgewing, gesteel en daar word vermoed dat die agt beeste wat teruggevind is, aan hom behoort.

Volgens die Polisie is ongeveer 220 stuks vee, waarvan so 90 nie teruggevind kon word nie, sedert Maart 2009 in die Bossemanskraal-, Onverwacht-, Nooitgedacht-, Jakkalsfontein- en Wag-‘n-Bietjies-loop-omgewings gesteel. Daar is glo ‘n versteekte kraal en die vee word daarvandaan lewendig verkoop.

Veediefstal vererger ook in Gauteng en volgens Mnr. Thinus Erasmus, die voorsitter van die Gauteng Veediefstal Forum, is dit veral erg in die Fochville-omgewing waar veediewe glo só arrogant geraak het dat hulle deur die dag met vragmotors rondry om te kyk waar vee is om te steel. Boere word aangemoedig om hul diere behoorlik te brandmerk sodat die Polisie gesteelde diere maklik kan uitken.

In die Vrystaat dra die verhuring van winterweiveld aan Lesotho-veldwagters tot die veediefstalprobleem by. Daar is gevind dat veldwagters met meer diere na Lesotho terugkeer as waarmee hulle oor die grens gekom het. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se adjunk-direkteurgeneraal, Kgabi Mogajane, het onlangs gesê dat daar grensbeamptes is wat die grenshekke en -heinings herstel, maar dat die veediewe nie van die hekke gebruik maak nie, maar wel van gebiede waar daar geen wagte is nie.

Volgens Mogajane is daar as gevolg van die bergagtige terrein nie ‘n heining nie en daar is tans vrye beweging van diere tussen Suid-Afrika en Lesotho.

“Plase se sekuriteit en veiligheid was ‘n kritieke en dringende prioriteit  vir die departement,” het die Minister van Landbou, Tina Joemat-Petterrson, aan die media by die Parlement gesê. Sy het bygevoeg dat hulle onder die leiding van die Minister van Polisie soldate ontplooi het om die grense te patrolleer met die doel om veediefstalaktiwiteite te voorkom en die onwettige beweging van landbouprodukte oor die grense te bekamp.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0