Categories: NewsPublished On: 14th December 2011

Boere bal weer vuis in die noorde

By 2 min read

Alle grondeienaars in die Noordstreek is aangemoedig om deel te neem aan TLU SA se jaarlikse beveiligingsaksie bekend as Operasie Ystervuis. Mnr Johan van Biljon, voorsitter van TLU SA Noord sê soos gebruiklik die tyd van die jaar, en met die buitengewoon hoë misdaadvlakke as agtergrond, sal die reeds bekende, provinsiale veiligheidsaksie op 15 Desember 2011 plaasvind.

Die provinsiale kommissaris is uitgenooi om aktief aan die komende oefening deel te neem en die aksies te ondersteun. TLU SA Noord sê die deelname van die polisie op grondvlak bou vertroue, versterk die band tussen die SAPD en die gemeenskap en stuur ‘n sterk boodskap uit dat daar goeie samewerking tussen lede van die gemeenskap en die SAPD bestaan. Die aksie moet as ‘n magsvermenigvuldiger gesien word en ‘n bydrae van die boerdery-gemeenskap om die SAPS se hande sterk te maak.

Mnr Doors le Roux, voorsitter van die Veiligheidskomitee van TLU SA Noord het gesê dat die plaaswagte, asook die dorpswag, in staat is om misdaadvlakke te stabiliseer. Operasie Ystervuis is ‘n poging om dit so te hou. Georganiseerde landbou help om misdadigers vriendelik maar beslis die deur te wys. Die terugvoer van bronne dui daarop dat Operasie Ystervuis wel ‘n stabiliserende invloed op daardie gebiede uitoefen waar die plaaswagte goed funksioneer.

Mnr Le Roux sê: “Veiligheid kan nie, en mag nooit gedelegeer word nie. Daar is geen alternatief nie. Die mandaat van die Plaaswagstelsel is eenvoudig, duidelik en onbeskaamd: om lewe en eiendom te beskerm. Daarom het plaasbewoners geen ander keuse as om self, op ‘n verantwoordelike manier, eienaarskap te neem vir die beskerming van lewe en eiendom nie. Almal moet nou betrokke raak.”

Alle grondeienaars is aangemoedig om aan die belangrike aksie deel te neem. Die doelwit van die aksie is om die SAPD op die platteland tydens die feestyd met misdaadvoorkoming behulpsaam te wees. Die boodskap wat uitgestuur word, is dat die platteland nie vir misdadigers bedoel is nie.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0