Boer van die jaar aangewys
Landbouskrywers SA het op ’n spogbanket te Kronenburg, Paarl, die Nasionale Boer van die Jaar, Nuwe Toetreder tot die Kommersiële Landbou en Landboukundige 2011 bekroon. Die finaliste is uit agt provinsies verkies. Die borge was ABSA, John Deere Financial en SANTAM.
Die Boer van die Jaar is mnr BP Greyling van Wakkerstroom, Mpumalanga. Hy boer op sowat 17 500 ha eie grond en huur nog 4 500 ha. Sy boerdery bestaan uit sowat 5 800 beeste en 21 000 skape, hoofsaaklik Merino’s asook 3 000 Dormerskape vir slaglamproduksie. Hy en sy pa het vanjaar die rekordprys van R250 000 vir ’n superfynwol-Merinoram betaal.
Die Landboukundige van die Jaar is prof Herman van Schalkwyk, (Noordwes). Hy is die rektor van die Potchefstroom-kampus, Noordwes Universiteit, en was voorheen landboudekaan by die Universiteit van die Vrystaat. As landbouekonoom en akademikus het hy ses akademiese boeke geskryf, 70 artikels in landboujoernale gepubliseer en 117 navorsings- en projekverslae gelewer.
Die Agri Dwala-groep van Napier, Wes-Kaap, is bekroon as die Nuwe Toetreder tot die Kommersiële Landbou. Daar is 29 begunstigdes wat 70% van die aandele besit. Hulle boer tans op 1 540 ha met vleisbeeste, skape en wintergraan. Die groep is in 2006 gestig.
Op die foto is van links: Magda du Toit, kommunikasiebestuurder Monsanto, nasionale voorsitter Landbouskrywers SA; Lulu Johnson LP (Port Elizabeth), voorsitter van die parlementêre portefeulje komitee op Landbou, Bosbou en Visserye; Jane Plaatjies, Agri Dwala-groep, Napier, Wes-Kaap en Ernst Janovsky, hoofbestuurder Absa Agribesigheid. (Foto: Theuns Botha)