Boer se plan: Erdwurms
Annemarie Joubert van Kleinfontein wen vandeesweek ‘n musiekpiering van Thys die Bosveldklong met haar erdwurmplaas. Sy skryf:
Liewe Oppiestoep
Ek sal bly wees as die ProAgrikaners ‘n bietjie reageer op die boereplan wat ek gemaak het om ‘n erdwurmplaas in te rig. Ek is nog glad nie seker dat dit gaan werk nie, maar ek is wel trots daarop dat dit feitlik nie ‘n sent gekos het nie, nadat ek gesien het hoeveel selfs die kleinste “wormery” in die winkels kos.
Die bestanddele:
- ‘n Ou, stukkende 1 000 liter reghoekige wit watertenk
- Groterige gruisklippe (uit voorraad wat ek gekoop het om die pad op te vul)
- Koerantpapier (klam gemaak)
- Mengsel van kompos en kraalmis (uit die groentetuin se voorraad)
- Swart plastiek omdat erdwurms glo van donkerte hou
- ‘n Ou braairooster wat mooi oor die gat bo pas
- ‘n Staander wat ‘n toonbank in ‘n vorige lewe was
- ‘n Draadfiltertjie vir die uitlaat
- ‘n Stukkie pyp en elmbogie vir die uitloop
- ‘n Emmer om die uitloopwatertjies (hopelik vloeibare bemesting!) op te vang
- ‘n Stukkie draad om die deksel mee vas te maak
- Erdwurms (ek het myne vir eers by ‘n kwekery bekom, maar ek verstaan dit is nie die regte soort nie – as die spulletjie oorleef sal ek dit vervang met rooi “wiggly’s” of wat dit ook al moet wees.)
Die gereedskap
- ‘n Hoekslyper om die gat bo groter te maak sodat ‘n mens gerieflik kan werk
- ‘n Boor om gaatjies te maak vir die deksel se hegting en vir luggate
- Kleefband vir die plastiek
Die redenasie is dat die klippe soos ‘n dreinering/filterstelsel sal werk, wat die vloeistof sal deurlaat. Volgens wat ek opgelees het, behoort ons oor so drie maande as die erdwurms genoeg kos kry en kompos maak (en klein wurmpies) ook van die kompos te kan uitskep.
Ek het die staander skeef geplaas sodat die vloeistof kan uitloop.
Aangesien ek die plaas naby my kombuisdeur wou hê vir die gerief om die kombuisafval uit te gooi en naby water waarmee ‘n mens die inhoud kan klam hou, het dit ongelukkig so uitgewerk dat die plaas vir so 2 uur regstreekse sonlig in die agtermiddag kry, wat ek nou maar tydelik bestuur het deur ‘n afdakkie daaroor op te slaan. Die plan was in elk geval om daar met skadunet toe te maak vir ‘n klein kwekery.
Enige kommentaar sal welkom wees!
![]() Annemarie se erdwurms woon nou al meer as ‘n week in hulle nuwe huis en hulle lyk nog heel gelukkig en gesond. |
![]() Annemarie Joubert by haar erdwurmplaas voordat sy ‘n koelte-afdakkie daaroor opgerig het.
|
![]() As alles reg loop, sal Annemarie eersdaags by hierdie pyp voedsame erdwurmtee vir haar groentetuin kan aftap. |
—
‘n Boer maak ‘n plan en ‘n gawe boer deel daardie planne met ander sodat ons almal minder hoef te sukkel. Dieselfde geld die boerehuisvrou. Stuur jou plan of wenk, gemerk Boer-se-plan, aan oppiestoep@mweb.co.za en staan ‘n kans om ‘n musiekpiering van Thys, die Bosveldklong, te wen. Huishouwenke is ook welkom. As jy ‘n landbou- of huishouverwante probleem het wat jou grys hare gee, stuur dit ook, dan kyk ons of ons by die kenners ‘n oplossing vir jou probleem kan kry.