Boek oor indringerspesies baie gewild
‘n Boek oor die geskiedenis, wetenskap en filosofie van navorsing oor indringerspesies, wat enkele maande gelede vrygestel is, gaan herdruk word, omdat dit so gewild is. Die boek, Fifty Years of Invasion Ecology: The Legacy of Charles Elton is deur prof Dave Richardson van Stellenbosch Universiteit saamgestel. Hy is die adjunk-direkteur: Wetenskapstrategie by die DWT-NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB).
Die boek is gebaseer op aanbiedings by ʼn konferensie in 2008 op Stellenbosch waarvan die SIB die gasheer was. Dit was ter herdenking van die invloedryke eerste beskrywings van indringerspesies deur die Britse ekoloog Charles Elton in 1958.
Die konferensie is deur prof Richardson georganiseer en deur sowat 140 afgevaardigdes uit minstens 14 lande bygewoon.
Ander akademici van Stellenbosch wat tot die boek bygedra het, is dr Cang Hui (SIB), dr Brian van Wilgen (WNNR), en prof Johan Hattingh van die Departement Filosofie aan die US.
Prof Richardson sê: “Oor die afgelope 50 jaar het die menslike bevolking meer as verdubbel, en die wêreld se ekonomie het agtvoudig gegroei – om te sê dat dit ʼn groot invloed op die omgewing gehad het, sou ʼn totale onderbeklemtoning wees.”
Die boek bied ʼn oorsig oor hoe die mens met baie veranderinge te make gekry het, byvoorbeeld ten opsigte van omgewingsrestourasie en -bestuur, en natuurlik indringerspesies.