Categories: Resource managementPublished On: 13th July 2017

Boedelkwessies vir boere: Deel 3 – Só kan lewensversekering help met finansiële beplanning

By 3 min read
603 words
FFG

CFP 1

deur Theuns Mans, CFP®

Versekering is baie lank al met die mensdom. Die eerste geskrewe versekeringspolis het al in 1739 vC verskyn. Koning Hammoerabi se kode is in ’n Babeloniese obeliskmonument uitgekerf. Die gedagte was dat alle handelsreisigers die risiko van diefstal langs die pad tussen mekaar moes deel.

In vorige artikels in die reeks het ons gemeld dat onkunde oor finansiële beplanning tot onverwagse belastingverpligtings in die boer se boedel kan lei. Daar is baie strategieë wat oorweeg kan word om die probleme wat uit boedelbeplanning kan spruit, die hoof te bied. Een van die planne is om lewensversekering te gebruik om likiditeitsprobleme te verhoed. In sekere gevalle wil ’n boer se kind voortgaan met die boerdery na die boer se afsterwe, maar die boer wil uiteraard ook verseker dat daar genoeg likiditeit en finansiële versorging vir sy oorlewende wederhelf is. ’n Moontlike oplossing is dat die boer en sy kind ’n koop- en verkoopooreenkoms aangaan.

Die kind verseker dan die boer se lewe vir die waarde van die boerdery. (Sien die artikel oor boedelbeplanning in ProAgri 207 vir meer inligting oor die realistiese waarde van ’n boerdery wat in gedagte gehou moet word.)

Die twee partye gaan dan ’n koopen verkoopooreenkoms aan waardeur die kind in staat gestel sal word om die boerdery te koop met die geld wat deur die polis voorsien word. Die strategie sal die nodige likiditeit aan die boedel verleen en uiteindelik ook die nodige finansiële gemoedsrus aan die oorlewende lewensmaat bied om haar lewenstyl te handhaaf. Nog ’n kostedoeltreffende oplossing is om die boer en sy vrou se lewens te verseker sodat dit eers uitbetaal word wanneer die die laaste een dood is. As die man eerste doodgaan, erf sy vrou dus die grootste deel van die boedel, maar die doodsbelasting word oorgedra na haar boedel. Wanneer die kinders  die boerdery na haar afsterwe erf, sal die lewensversekering die koste dek.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, glo ook dat versekering, soos ons dit vandag ken, ’n goeie konsep is vir risikobestuur. Wanneer iemand aansoek doen om versekeringsdekking, word die risiko tussen baie mense versprei, asook entiteite wat dit kan hanteer. Dink aan versekering as die aankoop van risikobestuur teen ’n maandelikse paaiement. Mense verseker hulleself dikwels teen die risiko van ’n gevaarlike siekte, soos kanker of ’n hartaanval. Dit is presies dieselfde konsep.

Te lank reeds het finansiële advies net op die verkoop van ’n produk gefokus en te min aandag is gegee aan behoorlike finansiële beplanning gegrond op die ses-stap internasionaal erkende finansiële-beplanningsproses. Elkeen het unieke finansiële omstandighede wat vra vir unieke finansiële beplanning. Die strategieë wat in hierdie artikel bespreek is, is miskien nie geskik vir elke boer nie. Dus, as jy nie jou familie met yslike boedellaste wil laat nie en wil verseker dat jou boerdery na jou dood kan voortgaan, is dit nodig om ’n behoorlike finansiële plan op te stel.

Die meeste geregistreerde, professionele CFP®-konsultante vra ’n tarief, of werk teen ’n tarief met kommissie, vir hulle dienste. Die voordeel daarvan om so ’n professionele raadgewer te gebruik, is dat jy die gemoedsrus kry dat die persoon sy kundigheid en vaardigheid sal gebruik om vir jou ’n finansiële plan uit te werk wat by jou unieke omstandighede sal pas.

Theuns Mans is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner wat spesialiseer in boedel- en beleggingsbeplanning. Stuur jou vrae aan: Theuns Mans CFP® by theuns@ffg.co.za

Hooffoto:  Dawie Roodt van die Efficient Groep en Theuns Mans, CFP®, druk in gesprek oor die rol wat versekering in finansiële beplanning kan speel.

0
Views: 156Comments Off on Boedelkwessies vir boere: Deel 3 – Só kan lewensversekering help met finansiële beplanning

Deel hierdie artikel.

0