Boedelkwessies vir boere – Deel 2

CFP 1
deur Theuns Mans, CFP
Baie boere laat bates aan hulle oorlewende lewensmaats agter as deel van ’n plan om kapitaalwinsbelasting en boedelbelasting te vermy. Hoewel die plan goed werk om onmiddellike belastingplig te vermy, beteken dit nie noodwendig ’n belastingbesparing nie.
Boere besef dikwels nie wat die praktiese uitwerking is op die nalatenskap van die plaas nie, veral as die kinders wil aanhou boer wanneer die oorlewende ouer sterf of albei ouers kort na mekaar. Die gevolg is dat daar moontlik nie genoeg likiditeit in die boedel(s) is om na afsterwe van die ouers met die boerdery voort te gaan nie.
Boerdery gaan oor meer as gewasse en diere. Dit is ’n taai bedryf wat versigtige beplanning verg. Verlede maand het ons in ProAgri daarop gewys dat baie boere die fout maak om nie aan hulle boerderye as sake-ondernemings te dink nie, ’n oorsig wat die likiditeit van die onderneming aan risiko kan blootstel.
Deur die samestelling en inwerkingstelling van ’n omvattende finansiële plan kan likiditeit in die boedel verseker word. Dit beteken daar moet voldoende voorsiening gemaak word dat die oorlewende huweliksmaat sy/haar lewenstandaard kan handhaaf, maar ook dat die boerderybedrywighede kan voortgaan indien die kinders verkies om daarmee voort te gaan na die boer se afsterwe.
Piet Swanepoel, senior asosiaat van Symington & De Kok Prokureurs, sê dat die inwerkingstelling van ’n nuwe artikel (9HA) in die Wet op Inkomstebelasting ook ’n negatiewe uitwerking op die boedels van veral vee- en wildboere kan hê. Die nuwe artikel bepaal dat sedert 1 Maart 2016 alle bates, insluitend voorraad, beskou word asof dit teen markwaarde verkoop is. Op ’n plaas word vee en wild as voorraad beskou.
Kapitaalwinsbelasting is van toepassing op kapitaalbates soos grond. Voorheen moes kapitaalwinsbelasting betaal word op die verskil tussen die markwaarde en standaardwaarde van alle lewendehawe in ’n boedel. Die standaardwaarde is ’n baie lae belastingwaarde wat op lewendehawe geplaas is in terme van die Inkomstebelastingwet. Wild het ’n standaardwaarde van nul.
Vanuit ’n kapitaalwinsbelastingoogpunt is die maksimum belastingkoers 18% van die belasbare wins – die wins is die verskil tussen die standaardkoste en die markwaarde.
Nou, met die nuwe bepaling, sal lewendehawe belasbaar wees as inkomstebelasting in plaas van kapitaalwinsbelasting. Dit beteken dat die belastingkoers soveel as 45% van die waarde van die lewendehawe kan wees. Vir die boedel beteken dit ’n bykomende belastingkoste van omtrent 27% van die waarde van die lewendehawe in die boedel.
Gestel die waarde van lewendehawe in die boedel is R1-miljoen, dan is soveel as R270 000 betaalbaar as bykomende inkomstebelasting.
Kinders is dikwels betrokke by die boerdery. Hulle sal waarskynlik betrokke bly of die boerdery oorneem na die boer se afsterwe, al erf die boer se huweliksmaat die plaas. Die boerdery sal kan voortgaan indien die boedel goed beplan is. Daar is byvoorbeeld wettige strukture beskikbaar om die boerdery as onderneming te skei van die private boedel. Die wettige strukture kan byvoorbeeld ’n maatskappy of trust wees.
As gevolg van die ingewikkeldheid van hierdie strukture en om slaggate te vermy, is dit beter om ’n prokureur, ouditeur, geregistreerde belastingkonsultant of professionele CFP®-praktisyn te gebruik om die geskikte struktuur op te stel en ’n toepaslike plan uit te werk. Die finansiële plan moet jou unieke omstandighede en bestaande strukture in ag neem, asook jou en jou gesin se doelwitte.
Daar is belastingvoordele wat verkry kan word wanneer jou boerderybedrywighede reg saamgestel word. Boere het baie risiko’s – droogte, grondeise, veeverliese en al die ander gewone risiko’s wat ondernemings in Suid-Afrika het. Dit is noodsaaklik vir ’n boer om ’n behoorlike plan gereed te hê met die ondersteuning van ’n gekwalifiseerde, kundige finansiële beplanner om die risiko’s te verminder.
Volgende maand bespreek ons versekeringsbeplanning en of lewensversekering nog ’n plek het in moderne finansiële beplanning.
Theuns Mans is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner wat spesialiseer in boedel- en beleggingsbeplanning. Stuur jou vrae aan: theuns@ffg.co.za.
Hooffoto: Piet Swanepoel en Theuns Mans bespreek boedelkwessies vir boere.