Categories: Resource managementPublished On: 25th May 2017

Boedelbeplanning vir boere verg noukeurige aandag

By 3 min read
532 words
Theuns Mans en Rumpff Krüger

CFP 2

Vir baie boere is die plaas self die grootste deel van hulle nettowaarde en boedel. In die meeste gevalle is die plaas ook in die boer se naam geregistreer. Dit kan lei tot ’n aansienlik groter as verwagte belastingplig indien die boer sterf; iets waarvan baie boere nie bewus is nie. Hierdie belasting word uit die boedel verhaal, wat ’n ernstige negatiewe invloed op die erfgename kan hê.

“Boedelbeplanning is ’n kritieke deel van enige finansiële plan en moet reg benader word, met inagneming van die unieke omstandighede. Baie boere bedryf nie hulle boerdery soos ’n onderneming nie en is ook nie ten volle ingelig oor die implikasies van gebrekkige boedelbeplanning nie,” sê Theuns Mans, CFP®, geregistreerde finansiële beplanner van Futurum Financial Group.

Theuns sê dit is belangrik dat boedelbeplaning nie in afsondering moet geskied nie, maar as deel van ’n totale finansiële plan waarby alle beleggings en oorwegings soos verbeterings aan die eiendom, ingesluit word. “Die realistiese, billike waarde van landbougrond is baie belangrik wanneer ’n finansiële plan saamgestel word. Die akkurate waarde van die grond sal help met die bepaling van die beste strategie vir boedelbeplanning.”

Volgens Rumpff Krüger, ’n professionele waardeerder wat in landbou- en  kommersiële eiendomswaardasies spesialiseer, is boere geneig om te oorkapitaliseer op hulle plase. “In ’n poging om op inkomstebelasting te bespaar, oorontwikkel hulle soms plase met onnodige of oorluukse verbeterings. Sulke verbeterings voeg dikwels niks by tot die markwaarde van die eiendom nie. Die beginsel betrokke is: koste ≠ waarde. Die klem moet eintlik val op funksionele verbeterings wat van toepassing is op die betrokke boerdery.

Dit is ook nie wys om oorboord te gaan met behuising op ’n plaas nie. In die meeste gevalle kyk ’n potensiële koper eerder na die plaas self en die potensiaal van die boerdery as die verbeterings aan geboue,” sê Rumpff. Theuns beveel aan dat boere ’n finansiële plan gebruik wat boedelbeplanning insluit. “Dit sal die risiko vir erfgename verminder. ’n Opgedateerde testament is ’n baie goeie beginpunt. Dit is ook wys om die dokumentasie op te stel met die hulp van ’n geregistreerde professionele finansiële kundige, CFP®-praktisyn, wat ’n goeie begrip het van al die wetlike aspekte en belastingimplikasies,” sê hy.

Die meeste professionele kundiges werk op grond van ’n tarief en verdien nie kommissie om sekere produkte of strategieë aan te beveel nie. “Elke persoon se situasie is uniek en benodig ’n omvattende finansiële plan.”

Die wêreldstandaard vir finansiële beplanning behels ’n sespuntplan wat voorsiening maak vir ’n volledige oorsig oor ’n indiwidu se persoonlike omstandighede, soos aangedui op die skets. In die volgende artikel van hierdie reeks van ses sal daar meer aandag gegee word aan sterftebelasting. Verder sal verskillende boedelbeplanningstegnieke bespreek word om seker te maak dat die boedel doeltreffend werk, voor en na dood. In die reeks sal ons ook die nodigheid van lewensverskeringpremies en ander risikobeplanning bespreek.

Theuns Mans, CFP®, is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner wat spesialiseer in boedel- en beleggingsbeplanning. Stuur gerus enige vrae aan theuns@ffg.co.za.

Hooffoto: Theuns Mans, finansiële beplanner, en Rumpff Krüger, ’n professionele waardeerder, bespreek die rol van plaaswaardasies in boedelbeplanning.

CFP

0
Views: 183Comments Off on Boedelbeplanning vir boere verg noukeurige aandag

Deel hierdie artikel.

0