Blomvlei se selfsorg Tuli beeste maak wins sonder sukkel
Vir winsgewende beesboerdery sonder sukkel is Tuli die nommerpas bees. Dit bewys Stephan en Carmen Welz met hulle naweekboerdery op Blomvlei, waar die Tuli-beeste vir hulleself sorg.
Toe hulle in 1988 die plaas by Tonteldoos naby Dullstroom gekoop het, was hulle doel om ’n mooi naweekplekkie te bekom. Geskiktheid vir boerdery was geen oorweging nie.
Tonteldoos se naam is nie verniet Tonteldoos nie. Elke winter het die oormaat gras op die onbeweide plaas afgebrand en die Welze het besluit om beeste aan te skaf om die veld in toom te hou.
Maar dit moes selfsorgbeeste wees, want hulle was net naweke op die plaas. Bowendien het hulle in daardie stadium niks van beeste geweet nie en sou nie kalfprobleme en ’n gedokter en ’n oppiepery kon behartig nie.
Vandag is hulle altwee baie bly dat hulle destyds die goeie raad van hulle veearts gevolg het om Tuli-beeste te kry. Hulle eerste 5 Tuli-koeie het hulle in 1992 in die Oos-Kaap gekoop en van die 11 dragtige verse (gebore 1990) wat hulle daarna uit Zimbabwe ingevoer het, is twee nog op die plaas en kalf gereeld of word in embrio-programme gebruik. Buiten hulle embrios het die 11 koeie saam 107 kalwers gehad!
Hulle het verskeie kere diere van verskillende telers in Zimbabwe ingevoer, sodat die genepoel van hulle kudde van bykans 400 diere vandag besonder wyd is.
Die Tuli-beeste pas goed aan op die bergagtige, klipperige gemengde suurveld met sy winterkoue van tot 5 grade onder vriespunt en sy somerhitte van tot 32 grade. In die somer kry hulle fosfaatlek en in die winterproteïenblokke.
As suiwer inheemse Sanga-beesras wat afstam van beeste wat oor baie eeue Suider-Afrika se onverbiddelike proses van natuurlike seleksie oorleef het, het vandag se Tuli-beeste gesogte eienskappe:
- Natuurlike weerstand teen eksterne en interne parasiete
- Uitstekend aanpasbaar by ’n wye verskeidenheid klimaatstoestande
- Benut swak gehalte natuurlike weiding optimaal
- Medium raam met lae onderhoudsbehoefte
- Rustige temperament en maklik hanteerbaar
- Vroegryp en vrugbaar (Blomvlei se tusssenkalfperiode is 405 dae)
- Pragtige, gesonde uiers en baie melk
- Uitstekende vleisgehalte ten opsigte van verhouding keursnitte, marmering, sappigheid en geur
- Was duisende jare in isolasie en presteer dus uiters goed in kruisteelt met sowel bos indicus as bos taurus
- Groot persentasie natuurlike poenskoppe
Blomvlei bied iets vir elkeen: Puik genetika vir die volbloed stoetboer, kuddebulle vir lonende kruisteelt, selfsorgbeeste vir die saaiboer wat oesreste sonder sukkel in geld wil omskep, en geensukkelbeeste vir beginnerboere en naweekboere wat nie die kennis of die tyd het om beeste op te piep nie.
Die volgende word by die veiling aangebied:
- 45 stoet- en kommersiële Tuli-bulle, 2,5 tot 5 jaar oud
- 35 kommersiële Tuli-koeie en verse, party met kalwers (loop by die bul)
- 4 SP-verse – loop by bul
Alle diere is ingeënt teen sponssiekte, lamsiekte, miltsiekte, BVD, brucellosis en knopvelsiekte. Hulle loop op strawwe rooiwater- en galsiekteveld en dragtigheid- en vrugbaarheidstatus sal deur ’n veearts bevestig word.
Besoek www.studbook.co.za/society/tuli/auctions.php vir ’n veilingskatalogus met foto’s.
Vir meer inligting of as u diere vooraf op die plaas wil besigtig, skakel Stephan of Carmen by 082-330-0798.