Blommeprag by NAMPO Kaap

Flowers 1
NAMPO Kaap, die tweede grootste landbou ekspo in die land, het ‘n unieke karakter en atmosfeer. Die jaarlikse blomme uitstallings wat by NAMPO Kaap aangebied word dra beslis ook by tot hierdie unieke karakter. Die Kaapse blommeryk word erken as een van die mees uitsonderlike ter wêreld in terme van diversiteit, digtheid en aantal endemiese spesies. Die Kaapse blommeryk, en meer spesifiek die fynbos-bioom word behoorlik by NAMPO Kaap gevier.
Marjolijn Malan, Internasionale blommekuns beoordelaar, demonstrateur en onderwyser is verantwoordelik vir die Lube Marketing / Castrol Flora uitstalling in die Voermol-saal. Die tema vir Marjolijn se installasie vanjaar is “Waar twee oseane ontmoet in seekat se tuin” en fokus op die inheemse plantegroei en die kusgebied. Die seekat installasie het 320 suiers wat van sewejaartjies gemaak is en daar is ‘n meermin met ‘n stert wat bestaan uit 1431 perlemoenskulpe. Daar is ook ‘n paar seediere wat van Leucadendron tolletjies genaak is, ‘n foto uitstalling van visse wat hier voorkom asook ‘n paar bekende vissermanne uit die omgewing en ‘n uitstalling van kusplante deur Marjolijn en Gretha Engelbrecht.
Bekende blommerangskikkers van so ver as Kaapstad en George gaan die seelewe in blomme uitbeeld. Die publiek sal weer die beoordelaars in hierdie kompetisie wees en kan vir hul gunsteling stem. Liz van den Berg, wat die tradisionele Japanese kunsvorm, Gyotaku, beoefen gaan haar werk uitstal en demonstreer. Hierdie unieke kunsvorm gebruik ink om die afdruk van ‘n vis op papier of materiaal te maak. Met hierdie unieke kunswerke plaas sy die kollig op die kompleksiteit van marine ekosisteme en die noodsaak om dit vir toekomstige geslagte te bewaar. Liz sal Vrydag om 15:00 en Saterdag om 10:00 demonstrasies doen van die interessante tegniek.
Adene Nieuwoudt is die passievolle krag agter Adene se Plaasblomme. Haar liefde vir die natuur het haar genoop om blomme te kweek. Die tuiniers sal hulle kan verlustig aan die groot verskeidenheid interessante bolle en snyblomme wat sy te koop aanbied.
Gerhard van Deventer van Zandberg Fynbos gaan plante en rotse vertoon en Floraland Fresh bied vars blomme te koop aan. Geoffrey Visser, ‘n botaniese waterverf kunstenaar, sal as deel van die uitstalling skilder en sy kunswerke ten toon te stel.
Neptun Overberg Fynbos-uitstalling
Met ‘n paar hope grond, klippe, ou bande en lieflike fynbos het die span wat bestaan uit Hannalie Aggenbach, Marina du Toit, Gina Joubert, Carl Richter en Gert Daniels die Neptun-saal in ‘n lushof omskep. Die plantegroei van die Overberg word op ‘n natuurlike wyse uitgebeeld en besoekers kan selfs vir ‘n wandeling op die berg gaan! Daar is nie net ‘n waterval, vleilande en fynbos nie, al die spesies wat in die uitstalling gebruik is, word in ‘n spesie-uitstalling geïdentifiseer.
Heuningbostee (Cyclopia genistoides) is deel van die Fynbos bioom, en word ook uitgebeeld in die uitstalling. Hierdie unieke tee wat vry is van kafeïen, preserveermiddels, suiker of heuning, is een van die uitvoerprodukte van die Overberg waarop ons baie trots is.
Die Heuningbos Markie bied ook ‘n verskeidenheid tuisgebak, heuningbostee, ingelegde produkte, vars vrugte, vars blomme, dekor, funky Neptun waterskoene en vele meer. Koop gerus by hierdie markie en neem ‘n stukkie van die Overberg saam huis toe. Nadat jy jou aan die Overbergse blommeskat verlustig het, kan jy by die Overberg Teetuin smul aan heerlike eetgoed terwyl jy die pragtige fynbos en rustige omgewing indrink. Moenie hierdie uitstalling misloop nie, dit is beslis een van die hoogtepunte op die NAMPO Kaap 2023 spyskaart.
Sien jou daar!
Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za. Pryse is R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders. Kaartjies wat by die hekke gekoop word is R90 per persoon Voorskoolse kinders kom gratis in. Die ekspo duur van Woensdag, 13 tot Vrydag, 15 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag, 16 September van 08:00 – 15:00. Besoekers kan die Kaap Agulhas Toerismekantoor kontak vir verblyf by 028-424-2584 / 082-896-2225 of www.overberg-info.co.za
Vir meer inligting oor NAMPO Kaap 2023, Die Android weergawe is beskikbaar op Play Store en die iOS weergawe is beskikbaar op App Store.