Categories: NewsPublished On: 13th February 2012

Biobrandstof-kan-die-sorghumbedryf-’n-hupstoot-gee

By 3 min read
572 words

’n Groen Akkoord is onlangs deur die regering, gemeenskapsverteenwoordigers, sakeorganisasies en vakbonde onderteken. Die akkoord stel spesifieke doelwitte om ’n “groen ekonomie” van die grond af te kry. Van die projekte gaan oor die installering van een miljoen sonwaterverwarmers deur die regering, beleggings van R25 miljard deur die Nywerheids-ontwikkelingskorporasie in hernubare energieprojekte en die ontwikkeling van die biobrandstofbedryf. ’n Belangrike deel van die ontwikkeling is dat regulasies in plek gestel word om voorsiening te maak vir die inmeng van 2% bio-etanol en 5% biodiesel in brandstof. Die regulasies kan ’n groot invloed he op besluite wat boere in die toekoms moet neem met betrekking tot
aanplantings.

Sedert die begin van die biobrandstofbedryf het die wêreld kennis geneem van die moontlikhede wat dit inhou vir werkskepping, armoedeverligting en voedselsekerheid. Veralgemenings oor die beweerde negatiewe invloed van die bedryf op voedselsekerheid is nie aanvaarbaar nie, omdat die omstandighede in lande verskil. Indien dit goed bestuur word kan die biobrandstofbedryf ’n groot bate vir enige ekonomie wees.

Met betrekking tot die voedselsekerheidsdebat in Suid-Afrika, het die graanbedryf getoon dat hy die vermoë het om genoeg voedsel te produseer soos bewys deur die toename in die uitvoer van graan en oliesade.

Sorghum bied ’n gepaste alternatief vir mielies as grondstof vir bio-etanol,veral in dele waar suikerriet nie geplant kan word nie. Die feit dat die regering sorghum as een van die grondstowwe ondersteun, is belowend.

Dit is interessant om daarop te let dat die jongste pogings om ’n suksesvolle biobrandstofbedryf te vestig, hoofsaaklik spruit uit die Skoner Brandstofbeleid en die behoefte aan plattelandse ontwikkeling.

Die Buro vir Voedsel en Landboubeleid het die moontlike invloed van bykomende sorghum-aanplantings op voedselsekerheid ondersoek. Indien die vermengingsvlak van biobrandstof by petrol en diesel op 2% en selfs tot op 5% gestel word, behoort dit geen invloed te he op die beskikbaarheid van voedsel nie.

Met ’n bykomende swaai van surplus mielies na sorghum-aanplantings en ’n verwagte toename in opbrengs as gevolg van verbeterde kultivars, sal die graanbedryf selfs ’n 10% mengsel kan hanteer sonder om af te skaal op voedselproduksie. Indien die inmenging van biobrandstof nie verplig word nie, kan verwag word dat sorghum-produksie verder kan daal.

Graan SA voorsien dat die aanvraag na sorghum in die toekoms tot soveel as met 600 000 ton kan toeneem, indien die 2% inmenging deurgevoer word en die beplande sorghumaanlegte realiseer. Teen hierdie positiewe scenario behoort hoer pryse die verbruik wel te beïnvloed, maar teen 2020 behoort die aanbod van sorghum aan die vraag daarna te voldoen en sal dit ook nie meer nodig wees om sorghum in te voer nie.

Die uiteindelike invloed op mielieaanplantings en -pryse is volgens Graan SA minimaal. Daar word voorsien dat die aanplanting van mielies teen 2020 met net sowat 73 000 ha sal afneem.

Met die bykomende sorghum-aanplantings kan die totale oppervlakte onder
somergraan met 80 000 ha toeneem. Wat wel noodsaaklik is, is dat die opbrengspotensiaal van sorghum verhoog moet word. Planttelers voorsien dat ’n verhoging in aanvraag en belangstelling navorsing sal stimuleer en dat opbrengste van 4 t/ha teen 2020 verwag kan word.

Dit beteken dat sorghum meer kompeterend teenoor geelmielies kan raak wat boere sal motiveer om meer sorghum te plant. Daarby is sorghum meer droogtebestand as mielies wat die produksierisiko verlaag.

Volgens Graan SA sal ’n 2% byvoeging van biobrandstof by petrol en diesel geen noemenswaardige invloed op die beskikbaarheid en bekostigbaarheid van voedsel hê nie.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0