Categories: NewsPublished On: 6th May 2011

Bewys wat jy sê, Solly

By 2 min read
Agri Noordwes het ten sterkste beswaar gemaak teen die jongste uitlatings van die Cosatu-leier in die provinsie, Solly Pethoe, en hom uitgedaag om sy beskuldigings te bewys. Hy het onder meer beweer dat “rassistiese” boere in Noordwes hulle “rassistiese” mag gaan gebruik om werkers te verhinder om aan die verkiesing te gaan deelneem, “net soos in 2009”.
 
Hy het die Demokratiese Alliansie ook uitgeskel as ‘n rassistiese party en ‘n “vyand van die arm werkersklas”.
 
Mnr Boeta du Toit van Agri Noordwes sê Solly Pethoe het sy eie politieke aspirasies en hy gebruik die media om ‘n klimaat van onverdraagsaamheid teenoor boere te skep. Ondertussen is hy en Cosatu klaaglik afwesig by forums waar arbeidsverhoudinge bespreek word. 
 
Mnr du Toit sê Agri SA het weer hierdie jaar ‘n ooreenkoms met die Onafhanklike Verkiesingskommissie met betrekking tot kieseropleiding en toegang tot plase onderteken. Die Cosatu-vakbond, FAWU, het ook die dokument onderteken. Volgens die ooreenkoms word daar nie stemwerwery op plase toegelaat nie, maar geen werker word verhinder om te gaan stem nie.
Die plaaslike verteenwoordiger van die OVK het Agri Noordwes as voorbeeld gebruik van goeie samewerking en organisasie.    
 
Met betrekking tot die herhaalde beskuldigings dat boere hulle werkers uitbuit, het mnr Du Toit daarop gewys dat landbou in die provinsie die beste presteer het van alle bedrywe in die blitsbesoeke van die Departement van Arbeid.  Met die onverwagse besoeke is bevind dat boere aan bykans 80% van alle arbeidswetgewing voldoen. Mnr Du Toit sê in die Chemiese bedryf is daar maar 47% voldoening, maar daaroor word nie opruiende uitsprake gemaak nie. 
 
Mnr Johannes Möller, president van Agri SA het ook in ‘n verklaring na aanleiding van twee plaasmoorde wat die laaste week gepleeg is, ‘n oproep op politieke partye en hulle lede gedoen om hulle te weerhou van onverantwoordelike optrede en –uitsprake.  Hy sê lede van politieke partye moet hulle nie skuldig maak aan radikale uitsprake wat sekere gemeenskappe kan benadeel nie. 
 
“Hierdie tipe uitsprake gaan gewoonlik met emosie gepaard wat lei tot verkeerde persepsies van mense. Politieke partye behoort hulle sterk uit te spreek teen geweldsmisdaad wat reeds baie Suid-Afrikaners se lewens ingrypend verander het”, sê mnr Möller.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment