Categories: NewsPublished On: 9th July 2010

Betroubare-FAW-trokke:-sterk-en-bekostigbaar!

By 4 min read

“Sterk, betroubaar en bekostigbaar. Dit is FAW in een sin.” So sê Eugene van der Berg, verkoopsbestuurder van FAW Voertuigvervaardigers SA (Edms) Bpk.

Volgens Eugene is dít die rede hoekom FAW tans die tweede grootste vragmotorvervaardiger in die hele wye wêreld is.

FAW is nou sowat 13 jaar in Suid-Afrika. Eers het hulle ’n lae profiel gehandhaaf en hulle sake hier stadig maar deeglik uitgebou. Aanvanklike skeptisisme oor hulle vragmotors het soos mis voor die son verdwyn namate mense besef het: Hier is ’n trok wat sy man kan staan.

“Eers het jy op die snelweg so een keer in ses maande ’n FAW-vragmotor gesien. Nou sien jy verseker nooit minder as drie of vier van ons trokke in ’n uur nie,” sê FAW se nasionale kleinhandel- en handelaarsbestuurder, Tommy Blake.

’n Suid-Afrikaner laat hom nie op loop neem nie. Hy ondersoek ’n saak deeglik voordat hy besluit. Dis hoekom al hoe meer mense besef dat FAW skitte­rende waarde vir geld bied.

Die afgelope jaar het FAW se verkope met 38% gegroei.

Tommy en Eugene vertel van ’n vrou wat met haar spaargeld een FAW-trok gekoop het. So ingenome was sy met die FAW se werkverrigting en doeltreffendheid dat sy haar vloot met nog nege FAW-trokke uitgebou het!

Daar is nog talle ander voorbeelde waar FAW vir vervoer­ders die verskil gemaak het.

“Ons bou vlote,” sê Tommy. Volgens hom beteken ’n gelukkige en tevrede kliënt meer verkope. Die trokke verkoop hulleself, sê hy.

Vir die boer hou dit ook groot voordele in om in ’n FAW-vragmotor te belê.

Die eerste rede is omdat FAW so betroubaar en bekostigbaar is.
 
“Dit gaan alles oor waarde vir geld. Waarom heelwat meer betaal vir ’n trok as jy dieselfde betroubaarheid en produk­ondersteuning vir heelwat minder geld kan kry? Dit maak mos nie sin nie,” meen Tommy.

En dis nou maar wors: Die boer wat ’n FAW-trok koop, kan op net die beste diens reken. ’n Netwerk professionele handelaars regoor Suid-Afrika en ons buurstate sorg daarvoor.

Daar is ook ’n 24-uur rugsteundiens met ’n noodnommer wat op ’n pragtige metaalsleutelhouer verskyn wat elke nuwe FAW-eienaar ontvang.

Selfs al het die waarborg verval, kan boere steeds die nommer skakel.

Gepraat van die waarborg, al die trokke is vir 12 maande of 100 000 km gewaarborg.

Een ding waaroor boere baie bly is, is dat die FAW-trok ’n toonbeeld van logiese, doeltreffende eenvoud is. In die eerste instansie beteken dit dat ’n FAW nie vol fensie tierlantyntjies en twak is wat jou in die steek kan laat nie, en tweedens dat jy, in die onwaarskynlike geval dat daar dalk iets verkeerd loop, omtrent net ’n draadtang nodig het om dit reg te maak, sê Tommy.

FAW bly so ver as moontlik weg van onnodige elektroniese bybehore, want dit is gewoonlik dié goed wat moeilikheid gee. En dit is mos nou heeltemal onnodig. ’n Boer koop hierdie trokke om mee te werk, nie om aan te sukkel nie. Veral vir ’n boer op ’n afgeleë plaas kan hierdie doeltreffende eenvoud goud werd wees.

’n FAW-trok is ook baie eenvoudig om te bestuur, sonder enige kopkrap.

FAW verstaan dat die boer nie geld het om rond te strooi nie en konsentreer daarop om werklik waarde vir geld te bied, ook wat onderhoudskoste betref.

Ook onderdele is heel bekostigbaar en by FAW se Spartan-monteeraanleg alleen is R28-miljoen se onderdele beskikbaar, wat beteken dat geen FAW ooit vir onderdele hoef te staan en wag nie.

Vir die boer is laairuimte altyd belangrik. FAW se vragmotors het die maksimum bakwydte wat die wet toelaat en bied twee verskillende baklengtes. Die boer kan self besluit watter grootte sy behoeftes die beste sal pas.

FAW is ook baie eerlik met loonvrag. Volgens Eugene sal ’n boer wat byvoorbeeld 3 ton op ’n FAW 3-ton vragmotor laai, nie moeilikheid met die owerhede kry nie. ’n FAW-trok wat ’n drietonner is, is korrek gebou om ’n volle 3 ton vrag te kan dra.

Drie- en viertonners het dagkajuite, maar al FAW se groter boeties het slaapplekkies wat op die lang pad baie nut kan hê.

FAW se drie-, vier-, nege-, elf- en vyftientontrokke het FAW-enjins, terwyl die 28-tonner ’n Deutz-enjin het.

FAW-trokke se ratstrekke is uitstekend gespasieer sodat die bestuurder die meeste uit sy voertuig kry oor enige terrein en helling.

Daar is ook ses verskillende modelle met tipbakke en ’n betonmengertrok met ’n brutovoertuigmassa van 33 ton beskikbaar.

Vier spesiaal gekeurde bakwerkvervaardigers maak FAW SA se bakke, wat beteken dat kliënte se trokke nommerpas volgens behoefte aangepas kan word om enigiets van varsprodukte tot lewendehawe te vervoer.

Eugene sê dat hy graag boere bystaan om die regte model en bakwerk vir hulle eie besondere toepassings te kies.

FAW se trokke is wêreldwyd gewild en sal hier by ons ook ’n aanwins op enige plaas wees.

Skakel Eugene van der Berg by 011-392-1530 of 082-496-2825, besoek www.fawtrucks.co.za en moenie by FAW se uitstalling by Nampo verbyloop nie.
 

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment