Bestuur Roundup Ready gewasse reg
Let daarop dat gewasse wat nie die Roundup Ready geen bevat nie, sal vrek as dit met Roundup Ready Plus onkruiddoder bespuit word. Hou dus baie deeglik rekord van wat jy waar plant en sorg strykdeur dat die regte saad in die planterbakke geplaas word.
Onthou dat ’n mens nie enige glifosaat op Roundup Ready gewasse kan gebruik nie; net geregistreerde Roundup Ready Plus onkruiddoder.
Roundup Ready Plus bevat 540 g/l glifosaat in kaliumsout. Daar word gewoonlik twee bespuitings aanbeveel met ’n totaal van 3,4 l/ha per seisoen. Bespuiting vind gewoonlik 14 tot 20 dae uitmekaar plaas, of wanneer die onkruid 10 cm hoog is. Hoe groter die onkruid, hoe moeiliker word dit beheer.
Gewoonlik word goeie beheer op klein, eenjarige onkruide verkry met 1,3 l/ha. Vir moeilik beheerbare of meerjarige onkruid, moet die dosis tot 1,7 l/ha verhoog word.
Die produk is na een uur reënvas. Swaar besproeiing of reën net na toediening kan die werking van die produk benadeel.
Op eenjarige plante kan jy vier dae na bespuiting sien hoe die produk begin werk en op meerjarige plante na sewe dae.
Glifosaat is ’n EPSP sintese-inhibeerder. Daarom moet dit na opkoms van die onkruid op die groen dele van die onkruid gespuit word. As die onkruid nat, rustend, vol stof en/of rypbeskadig is, sal die onkruiddoder nie so goed werk nie.
Die produk het geen nawerking in die grond nie.
Meng
Gebruik skoon water met ’n pH van 4,5 tot 6,5. Die water se pH kan met ’n buffer soos Bladbuff 5 reggestel word.
Meng so: Voeg 2% ammoniumsulfaat by die water, gevolg deur die buffer indien nodig en laastens die Roundup Ready Plus. Dit kan in die tenkmengsel saam met ander onkruidoders wat wel verenigbaar is met Roundup Ready Plus gemeng word en die middels moet na die Roundup-Ready Plus bygevoeg word.
Indien 2.4D Amien of MCPA saam met Roundup Ready Plus toegedien word, word geen buffer by die water gevoeg nie. Hierdie mengsel word gewoonlik vir moeilik beheerbare onkruide soos wandelende jood, akkerwinde, purperwinde of porselein gebruik.
Roundup Ready Plus word nie saam met SC-formulasie insekmiddels gespuit nie en tenkmengsels van Roundup Ready Plus en atrasienbevattende middels word nie aanbeveel nie.
Spuit
Maak seker die spuittoerusting is in ’n goeie toestand. Hoe minder water (nie meer as 125 l/ha) hoe beter die werking.
Moenie spuit as die wind vinniger as 10 km/h waai of as die relatiewe humiditeit hoër as 40% is nie. Roundup Ready Plus mag nie met lugbespuiting toegedien word nie.
Roundup Ready mielies
Die grondslag van sukses is om altyd op ’n skoon land te begin. Moenie jou mielies op ’n land vol onkruid plant en dink jy gaan dit skoonspuit met Roundup Ready Plus nie.
Dieselfde bestuursverveistes as vir konvensionele verbouing geld vir Roundup Ready gewasse, met die uitsondering van onkruidbeheer.
Roundup Ready kan vanaf grondkraakstadium tot die V8 -stadium bo-oor die plant toegedien word. (Dit is wanneer die eerste plante agt ware blare het waarvan die krae om die stam wys.)
Bespuiting in die kelk na die agtblaarstadium kan tot opbrengsverlies, swak bestuiwing en verwronge groei lei.
Na die agtblaarstadium moet gerigte bespuiting met valarms gedoen word.
Roundup Ready sojabone
Dieselfde beginsels geld as vir mielies, maar die laaste bespuiting moet liefs voor blomstadium toegedien word.
Op sojabone kan die maksimum van 6,7 l/ha toegedien word. Die bespuiting van sojabone kan so daar uitsien:
2 l/ha voor plant/voor opkoms; Vanaf grondkraak tot net voor blom 2 bespuitings van 1.7 l/ha en 1.3 l/ha 14 dae dae voor oes indien nodig wat ’n totaal van 4,7 l/ha gee.
Weerhoudingstydperk
Die volgende aantal dae moet toegelaat word tussen bespuiting en oes: Mielies vir beweiding: 28 dae, groenmielies: 42 dae, sojabone: 14 dae.