Categories: NewsPublished On: 12th August 2011

Bestry-wurms-in-die-veekudde-met-miseiertellings

By 3 min read
As jy ’n doseermiddel gebruik wat ondoeltreffend is, gaan dit jou meer kos as net die kostes van die doseermiddel. So sê dr Flip van Schalkwyk, spesialis-veearts in parasitologie. 
 
Indien jy met skape, bokke of beeste boer, kan jy gerus Spreuke 27:23 gaan lees: “Sorg dat jy weet wat jou kleinvee nodig het, gee aandag aan jou veetroppe.”
 
Antwoord nou die volgende vrae:
  • Wat is die huidige wurmstatus in jou trop of kudde?
  • Was die laaste dosering (ontwurming) wat gedoen is doeltreffend?
  • Is daar enige weerstand teen wurmmiddels op die plaas?
  • Weet jy watter wurmsoorte teenwoordig is in die vee op jou plaas?
Een van die tipiese tekens van haarwurmbesmetting by skape en bokke is die kwakkeel wat voorkom wanneer daar al definitiewe bloedarmoede is.

Die bleek oogslymvlies is kenmerkend van bloedarmoede wat deur wurms veroorsaak word.

Melklintwurmsegmente soos gesien in die mis van ’n lam.

Dit is noodsaaklik om die antwoorde vir die bogenoemde vrae te ken; hoe anders gaan jy weet of die wurmmiddel wat jy gebruik doeltreffend is al dan nie? As daar nie so ’n hoë koste aan dosering verbonde was nie, dan kon ’n mens dit seker regverdig om deur middel van blinde probeerslae antwoorde op die bogenoemde vrae te vind.
 
Daar is egter net een manier om die raaiwerk uit te skakel: “Om te meet is om te weet.” Met die wydverspreide voorkoms van wurmweerstand teen doseermiddels, het die tyd aangebreek dat wurmbeheer gegrond moet word op beproefde wetenskaplike maatreëls.
 
In die verlede was daar die probleem dat miseiertellings slegs beskore was vir plase wat naby genoeg aan sentra was waar die monsters ontleed kon word. Dit was grootliks weens die feit dat die mismonsters koud gehou moes word en die laboratorium binne ’n sekere tyd moes bereik.
 
Daardie probleem is ook nou oorkom danksy ’n nuwe tegniek wat ontwikkel is. Dit behels dat die mismonsters vakuumverseël word met gewone huishoudelike vakuumverpakkers wat in die handel verkrygbaar is. Die monster kan dan per posdiens (toonbank tot toonbank) of koerier versend word sonder enige verkoeling.
 
Die waarde van miseiertellings kan nie onderskat word nie
 
Die doeltreffendheid van ’n wurmmiddel moet gemoniteer word. Vra jouself die vraag af: Is 75% doeltreffend? Om ’n wiskundetoets te slaag: Ja. Om wurms in die kudde te beheer: Nee.
 
Hieruit blyk dit duidelik dat daar so na as moontlik aan 100% doeltreffendheid nodig is as dit by wurmbeheer kom. Daar is egter nie een middel op die mark wat 100% doeltreffend is nie, en juis daarom is dit so belangrik om miseiertellings te doen, verkieslik voor en na dosering om te bepaal hoe doeltreffend die middel is.
 
Hou in gedagte dat daardie wurms wat nie gedood word nie, eiers produseer teen ongeveer 5 000 – 10 000 eiers per wyfie per dag. Dit beteken kortweg dat daar derduisende eiers op die weiding beland van wurms wat weerstandbiedend is teen die middel wat alreeds net 75% doeltreffend is.
 
Geen oorlog is al ooit gewen waar die vyand nie bekend was nie. Die oorlog teen wurms kan alleenlik gewen word as die vyand bekend is:
  • Weet watter wurms kom voor.
  • Weet in watter getalle kom hulle voor.
  • Weet of die middels waarmee baklei word, werk.
Dit alles kan slegs gedoen word deur miseiertellings, larwekulture- en miseiertellingreduksietoetse te laat doen en dan saam met ’n opgeleide kundige die resultate en strategie te bespreek.
 
Wurmbeheer berus nie alleenlik by die toediening van doseermiddels nie, maar dit begin daarmee. Maak dus seker dit werk, anders val al die ander maatreëls ook plat.
 
Vir enige navrae in verband met mismonsterontledingsdienste soos wurmeiertellings, larwekulture- en wurmbeheer, kontak dr Flip van Schalkwyk by 082-783-7179 of dr Glyn Catton by 012-672-9169/ 082-663-2664.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment