Categories: NewsPublished On: 22nd November 2010

Besproeiingsboerdery: Boere se geld vloei, maar staat se water stuit

By 6 min read
1199 words

Katvoet-loop is die wagwoord vir boere wat met die staat oor water moet onderhandel. So waarsku ’n advokaat van Pretoria wat in watersake spesialiseer.

Die staat is tans besig om alle geregi-streerde waterverbruikers se verbruik na te gaan. Daar was reeds gevalle waar die Departement van Waterwese beweer het dat boere op minder as hulle regmatige deel of selfs op geen water geregtig is nie.

Hierdie magdom waardevolle water in Koppiesdam lê nou nutteloos omdat die Departement van Waterwese die besproeiingskema se kanale so verwaarloos het dat water nie meer na landerye gelei kan word nie.

Die Departement deel ook links en regs lasgewings uit, staak boere se watergebruik en verskaf inligting van bekragtigings waarvan vele nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie. Ongelukkig skrik sommige boere vir die amptelike dokumente en probeer nie eens om hulle ware regte te bepaal en af te dwing nie.

In enige transaksie met die Departement, of dit ’n aansoek om ’n watergebruikslisensie is of ’n reaksie op die Departement se uitsprake oor jou bestaande waterregte, sou dit wys wees om professionele en kundige hulp te  gebruik om te bepaal wat jou regte werklik is – en om jou regte af te dwing.

Die Departement kyk dikwels nie verder as die nuwe waterwet nie, maar dié wet laat jou toe om voort te gaan om bestaande regte uit te oefen. Om hierdie regte te bepaal, is dit dikwels nodig om na ouer wetgewing te verwys, selfs Wet 8 van 1912, omdat vergunnings daarin steeds van krag is.

As jy van die begin af kundige mense se hulp gebruik sodat alle huiswerk deeglik gedoen word, skakel dit moontlike probleme met latere appèlsake uit.

Die groot rede vir hierdie onverkwiklike watersituasie is, volgens die advokaat, onbekwaamheid in die Departement. Na die skorsing van die Departement se finansiële hoof en waarnemende direkteur-generaal en nadat die minister van Waterwese en Omgewingsake uit die kabinet geskop is, het mnr Gareth Morgan van die DA gesê die verrotting in die Departement is selfs dieper as wat aanvanklik gemeen is.

’n Tragiese voorbeeld van die Departement se onbekwaamheid en pligsversuim is die Koppies-besproeiingskema wat nou weens ’n gebrek aan instandhouding tot niet gegaan het, buiten vir die besproeiingsboere wat water uit die rivier onder die dam pomp.

Die regering het Koppies se besproeiingsboere gruwelik verneuk, sê die advokaat, deurdat die minister en die amptenare nie hulle werk gedoen het nie.

Koppies-besproeiingskema

Na die Tweede Vryheidsoorlog was die land vol brandarm boere wie se grond en vee van hulle ontfutsel is. Genl Christiaan de Wet het die Koppies-besproeiingskema in die Renosterrivier in die Vrystaat voorgestel om vir van hierdie boere ’n heenkome te bied.

In 1912 is Koppiesdam klaar gebou en 1 214 hektaar besproeiingsgrond is in persele van 8,65 hektaar elk ingedeel. Daar is twee kanale vir vloedbesproeiing en twee kofferdamme, Weltevrede en Roodepoort, onder Koppiesdam in die skema. Die Noordkanaal is ’n grondkanaal en ’n deel van die Suidkanaal is van beton. Al die ander kanale en leivore is grond.

Die swaar grond in die skema is van besproeiing afhanklik vir die verbouing van lusern, mielies en graansorghum.

In 1951 en 1967 is die dam vergroot onder die bestuur van die nedersetting-bestuursraad wat uit die besproeiingsboere verkies is. In 1968 het die Departement van Waterwese die waterskema oorgeneem. As gevolg van drastiese verhogings van die watertarief, is daar van die 56 besproeiingsboere in 1985 vandag ’n skamele 18 oor.

Ten spyte van die immer stygende tarief, het die Departement versuim om die kanale te onderhou, sodat die skema tans glad nie meer funksioneer nie. “Die watertariewe het drasties gestyg namate die onderhoud verswak het,” sê Johan Scheepers, ’n melkboer wat nou sonder besproeiing vir sy beeste moet probeer voer produseer.

“Die regering wil die boer se geld hê, maar het die skema laat verwaarloos en verval as gevolg van slapheid en pligsversuim,” sê Johan “Nou sê hulle dit sal meer as R40-miljoen kos om die kanale weer aan die werk te kry, maar dit is net soos die paaie – as hulle gereeld in stand gehou was, sou dit nie nou so baie gekos het om dit reg te maak nie.”

 Koppies-besproeiingskema se Suidkanaal waarin Johan Scheepers, melkboer, hier staan, is van beton gebou, al kan ‘n mens dit nie eintlik onder al die onkruid sien nie. As gevolg van die Departement van Waterwese se versuim om dit in stand te hou terwyl hulle steeds heffings van boere wil eis, het die hele skema in onbruik verval.

 Die Departement kan nie R40-miljoen bekostig om sy versuim by Koppies reg te stel nie, maar die ouditeur-generaal het bevind dat Waterwese verlede jaar onreëlmatige uitgawes van meer as  R1-miljard aangegaan het.

Die uiteinde van die saak was dat die Departement van Waterwese heffings van boere geëis het sonder om enige teenprestasie te lewer en dat boere karige droëlandproduksie op duur besproeiingsgrond moes beoefen.

Moedeloos het hulle uiteindelik by die prokureur, Carel Taute, uitgekom wat die Pretoriase wateradvokaat ingeroep het om die boere se regte teen die Departement te verdedig. “Waterwese het speletjies na alle kante toe gespeel om die saak te probeer uitrek en hulleself in die proses redelik met koste gestraf,” sê Carel.

Uiteindelik is die Departement gedwing om heffings waarvoor hy geen diens gelewer het nie aan boere terug te betaal en om boere se waterregte te koop, aangesien hulle geen water lewer nie.

Vir ’n boer soos Johan Scheepers is dit nie die ideale oplossing nie. Hy wou eerder gehad het dat die skema moes werk soos dit bedoel was. “Ek sou baie meer met die water kon doen as met die R13 000 per hektaar wat ek vir my  waterregte uitbetaal is. Ons het ’n toekoms hier kom skep en dit is nou daarmee heen.”

Johan is ook ontsteld dat ’n skema wat ’n bate vir die land was nou nutteloos geraak het as gevolg van pligsversuim deur “militante en  arrogante amptenare wat hulle nie aan die wet steur nie”.

Intussen ontvang Johan vandag nog steeds waterheffingrekeninge ten opsigte van grond wat hy byna ses jaar gelede aan De Beers verkoop het.

“Boerdery in Suid-Afrika is nie maklik nie,” sê Carel Taute. “Net die beste boere oorleef en dra die las om die hele bevolking te voed. Versukkeldheid en onvermoë soos dié van die Department van Waterwese maak boerdery onmoontlik. ’n Besproeiingsboer sonder water kry geen inkomste nie en kan niks produseer nie.

“As ons die hof moet gebruik om die staat te dwing om sy verantwoordelikhede na te kom en sy plig te doen, laat dit dan so wees.”

Praat met Carel Taute by 012-324-0109 of 082-371-6808 oor jou waterregte. Ook wanneer jy grond met waterregte koop, is dit nodig om die werklike geldigheid en omvang van daardie regte te laat bepaal om te verseker dat jy nie dalk ’n fortuin betaal vir denkbeelde of versinde waterregte nie.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0