Besproeiing: Moenie droogmaak nie!
As jy wil hê jou besproeiing moet deurgaans lonend en suksesvol wees, moet jy jou besproeiingstelsel se werking gereeld beoordeel (evalueer) en dit onderhou. FB Reinders van die LNR-Instituut vir Landbou-ingenieurswese vertel hoe. |
Doeltreffende besproeiingswaterbestuur beteken dat jy die tempo, hoeveelheid, tydsberekening en verspreiding van die water bepaal en beheer om die gewas se waterbehoefte op ’n beplande en doeltreffende manier te bevredig.
Besproeiingsukses hang nie net van die korrekte tegniese en landboukundige ontwerp af nie, maar ook van die standaard van bestuur en onderhoud van die besproeiingstelsel.
Die doel van die evaluering is om seker te maak die stelsel werk soos dit oorspronklik ontwerp en geïnstalleer was. Die evaluasieproses kan relatief eenvoudig wees om moontlike probleme in die stelsel vroegtydig te identifiseer.
Tabel 1 beskryf van die metings wat uitgevoer kan word om waardevolle inligting te verkry wat die nodigheid van onderhoud, veranderinge in die stelsel self en aanpassings in die bestuur kan uitwys.
Aspek | Meting / Beoordeling |
Pompdruk | Bepaal die pompdruk met ’n drukmeter en vergelyk dit met die gespesifiseerde druk. |
Stelselkapasiteit | Bepaal die stelsellewering deur lesings te neem met ’n vloeimeter. |
Inlaatdruk van blok | Bepaal die inlaatdruk van die blokke met ’n drukmeter en vergelyk dit met die verlangde druk gespesifiseer. |
Toedienerdruk en -lewering | Meet druk met ’n drukmeter en meet die lewering in ’n houer by minstens vyf toedieners (sproeiers of druppers) en vergelyk met die oorspronklike ontwerp. |
Algemene installasie | Bepaal of daar enige lekke in die stelsel is en herstel dit. |
Werking van toerusting | Kontroleer die werking van die pompe, filters, elektriese bedrading, toedieners, toevoerpunte, lug- en drukbeheerkleppe. |
As daar na die spesifieke besproeiingstelsels gekyk word, is dit belangrik om op die volgende te let wat werkverrigting kan beïnvloed:
- Druppers en mikrospuite is uiters gevoelig vir voorwerpies wat verstopping kan veroorsaak, omdat die vloeipad-opening van die toedieners baie klein is. Daarom is dit baie belangrik om voortdurend seker te maak dat die toedieners in ’n besproeiingsblok reg werk. Verstopte toedieners moet skoongemaak word en lekplekke moet reggemaak word. Vervang toedieners met dieselfde fabrikaat en tipe indien nodig. Maak seker dat die stelsel besproei teen die ontwerpdruk, want te lae druk sal tot ’n laer vloeispoed in die sypype lei, wat die uitsakking van gesuspendeerde vaste stowwe kan veroorsaak. Inspekteer die filtreerders ook gereeld en spoel dit terug om die drukverlies oor die filter te beperk.
- Sprinkelstelsels moet teen die ontwerpsdruk funksioneer, anders vind daar ’n onegalige verspreiding van water plaas. ’n Te lae sprinkelaardruk breek die waterstraal nie behoorlik op nie en ’n ring-effek met ’n swak verspreiding word verkry. Met ’n te hoë druk weer, word die straal te fyn opgebreek met ’n mis-effek wat groot verliese as gevolg van verdamping en windwegdrywing kan veroorsaak. In die praktyk is gevind dat die optimale werksdruk in kPa van die sprinkelaar tussen 60 en 70 maal die tuitdeursnee in mm moet wees. Dit geld vir tuite van 3 tot 7 mm deursnee. Byvoorbeeld as die tuitdeursnee 3/16 duim of 4,76 mm is, moet die druk tussen 286 en 333 kPa wees.
- Slytasie aan sprinkelaartuite moet ook voortdurend gemoniteer word, want 5% slytasie van ’n tuit beteken ’n 10% toename in lewering en kragaanvraag, wat bykomende bedryfskoste en oorbesproeiing beteken.
- By spilpunte is dit raadsaam om verstopte sprinkelaars af te haal en skoon te maak en nie ’n stuk draad te gebruik om die spuitstuk van buite af skoon te probeer steek nie. Daar kan terselfdertyd ook na die drukreguleerder se toestand gekyk word. In baie gevalle verstop die reguleerder gedeeltelik voordat die spuit verstop.
- Wanneer ’n spilpunt as gevolg van ’n vloed onder water was, is dit raadsaam om die elektriese werkverrigting te laat toets voor dit weer aangeskakel word.
Goeie bestuur berus altyd op tydige, akkurate inligting waarvolgens besluite geneem kan word. Dit geld ook vir enige besproeiingstelsel. As die stelsel gereeld deeglik nagegaan word, weet ’n mens betyds watter regstellings gemaak moet word om volgehoue doeltreffendheid te verseker.