Categories: NewsPublished On: 1st March 2011

Beplan nóú: Plant vir jou ‘n toekoms

By 4 min read
‘n Groter lekkerkry kan jy ‘n boer seker nie gee as om te sien hoe sy diere lekker en genoeg smul aan voedsame voer nie.
 
Oor die grootste dele van die land het dit lekker gereën en die diere eet tans lustig. Maar ons weet die moeilike tye kom weer en een van die beste maniere om daarvoor voorsiening te maak, is om nou reeds te beplan om volgende seisoen ‘n goeie voorraad heerlike, heilsame kuilvoer te maak.
 
Kuilvoer is ‘n perfekte manier om die voorspoed van die vet jare na die maer jare uit te brei om volgehoue voorspoedige produksie te verseker. Dit hou lank en is vir die boer beter as geld in die bank.
 
Kenners stem saam dat mieliekuilvoer koningskos vir beeste is en melkboere steun al hoe swaarder op kuilvoer om minder van hulle wins aan voermaatskappye oor te betaal.
 
Ongelukkig hou die veeboer nie dieselfde soort reusagtige trekkers as die graanboer aan nie en hy wil ook nie die aarde van horison tot horison vol mielies plant vir sy kuilvoer nie, want ‘n blote tien tot dertig hektaar kuilvoer is dikwels genoeg om as versekering teen moeilike tye te dien. Daarom is ‘n reuse planter nie vir hom ‘n kostedoeltreffende keuse nie.
 
Wat die veeboer nodig het, is ‘n kleiner, eenvoudiger plantertjie wat hy met sy bestaande trekkers kan sleep, wat betroubaar is en wat maklik is om mee te werk, maar tog deeglik plant.
 
Goeie nuus vir veeboere is dat Valtrac nou die perfekte planter vir daardie behoefte het: Die Jumil JM2090 PD MG, ook bekend as die klein planter met die groot vermoë. En ook geen wonder nie, want so klein soos hy is, plant die Jumil JM2090 perfek om elke sent insetkoste in pure produksie te omskep.
 
Geenbewerking!
 
Die beste van alles is dat die Jumil JM2090 ‘n volwaardige geenbewerkingplanter is wat dié taak net so goed soos die groot geenbewerkingreuse verrig. Kyk net:
 
Die Jumil JM2090 se raam is sterk en stewig genoeg om die strawwe eise van geenbewerking lag-lag te hanteer.
 
Sy plantereenhede is met pantografiese skarniere gemonteer sodat elke eenheid selfs oor ongelyke grond die perfekte plantdiepte handhaaf.
 
Vir baie strawwe toestande kan jy ‘n beitel of skaar monteer om die grond oop te maak, maar gewoonlik is die pantografiese snyskyf van 430 mm heeltemal voldoende om deur materiaal te sny en die weg vir die plant- en kunsmiskouters te baan.
 
Die kunsmis- en planteenheid het elk ‘n dubbelskottelkouter van 330 mm en het skoonmakers om te sorg dat hulle nie aanpak of verstop nie. Net na die planter se pitplaasbuis kom ‘n toemaakskyf waarvan die werkhoek na smaak verstel kan word.
 
Elke plantereenheid word aangedryf deur ‘n agterwiel met ‘n rubberband, wat sommer die plantvoor snoesig vastrap.
 
Die kunsmistoediener is verstelbaar om enigiets tussen 100 en 1 000 kg per hektaar toe te dien en word met ‘n rat en kleinrat aangedryf.
 
Die saaduitmeter word meganies met ‘n kroon- en kleinrat aangedryf. Stelle vir katoen, grondbone en rys is ook beskikbaar.
 
Die saad- en kunsmisbakke is van duursame poli-uretaan sodat dit jare en jare lank kan hou sonder gevaar van roes en vervorming.
 
Die plantermerkers werk meganies en die planter het steunwiele om die las op die trekker se driepuntstelsel te verlig, sodat ‘n klein trekker nie ooreis word nie.
 
Een vir elke smaak
 
Die Jumil JM2090 is in verskillende groottes beskikbaar, vanaf ‘n tweeryplanter wat rywydtes van 900 tot 1 000 mm kan plant, tot ‘n agtrybul wat 358 kg kunsmis en 237 kg saad dra om sommer ‘n groot lap aarde op ‘n dag perfek te beplant.
 
Dit is kinderspeletjies om die Jumil JM2090 te gebruik, sodat selfs iemand sonder veel kennis van saaiboerdery perfek daarmee kan plant.
 
Boonop geniet die Jumil skitterende rugsteundiens soos wat net Valtrac kan bied, sodat die boer nooit hoef te sukkel nie: Valtrac sorg immers dat die boer aan die boer bly; nie bloot dat hy masjiene besit nie.
 
Na elke afdraand is daar ‘n opdraand en na elke nat tydperk volg ‘n droogte. Beplan nou jou kuilvoeraanplanting vir die komende seisoen sodat jou diere selfs in die maer jare vet kan bly.
 
Praat met Hennie du Toit van Valtrac by 056-817-7308 of e-pos henniedut@valtrac.co.za. Besoek ook www.valtrac.co.za.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0