Belarus-is-die-trekker-vir-die-boer-wat-weet
’n Wakker boer van Ixopo is Peter Woodburn, wat na die meganiese kant van sy familie se sitrus-, bosbou- en suikerrietboerdery, Woodburn Estates, omsien. As opgeleide trekkertegnikus weet hy waarvan hy praat en hy is heeltemal ingenome met die Belarus 920.3E wat die boerdery vir sleepwerk uit die plantasies en suikerrietlande aangeskaf het en hy is seker dat die trekker ook sy man met landboutake sal kan staan.
“Dis ’n lekker swaar trekker van 4,5 ton, wat stewig vastrap en net 2,84 liter diesel vir elke vrag van 6 ton na die laaigebied verg teenoor die 3 liter van sy voorganger. Teen agt vragte per dag is dit nogal ’n beduidende verskil,” vertel Peter.
Belarus is ’n reguit, eerlike trekker sonder tierlantyntjies, maar met alles wat die boer nodig het – soos sy rataangedrewe, ingeboude kompressor wat vir ’n swetterjoel take benut kan word. |
Dié trekker van 63 kW en 411 Nm wringkrag,is ’n reguit, eerlike trekker sonder onnodige fieterjasietjies wat probleme kan veroorsaak, maar met alles en meer wat ’n boer van ’n sleep- of landboutrekker kan verwag.
Jy kan sy vierwieltrek verstel vir outomatiese of gedwonge inskakeling. As jy weet jy gaan deurgaans swaar werk op moeilike terrein, skakel jy die vierwieltrek onverbiddelik in. Maar as jy vragte stompe uit die plantasie sleep op plekke waar vierwieltrek nie oral nodig is nie, kies jy outomatiese inskakeling. Dan skakel die trekker vanself oor na vierwieltrek wanneer dit nodig is. Dit help om brandstof te bespaar en die oorskakeling geskied gladweg met behulp van ’n koppelaarstel in die aandryfstelsel.
Die trekker het ’n rat vir presies elke spoed, elke vrag en elke toepassing en dis maklik om die regte rat te kies. Op die teerpad kan die 920.3E veertig kilometer per uur draf!
Volgens Peter kan jy jou Belarus boonop bestel presies soos jy hom wil hê met die ratkas, vooras en ewenaar van jou keuse. Daar is geen rekenaars of ander ingewikkeldhede nie – die trekkers is basies, maklik verstaanbaar en
betroubaar.
Nogtans maak Belarus sake vir die operateur so maklik as moontlik met alle kontroles byderhand, ’n gerieflike platformwerkstasie teen ’n prys laer as dié van die tradisioneel goedkoper wydsbeentrekkers, ’n verstelbare stuurkolom en ’n trekstang wat hidroulies laat sak kan word om ’n sleepwerktuig te haak. Dis tog veel makliker om net die trekstang te laat sak, te tru en dit weer hidroulies op te lig as om ’n sleepwa se disselboom op te domkrag.
Die trekker het sy eie rataangedrewe kompressor wat met die draai van ’n skakelaar aan- of afgeskakel kan word om wiele te pomp, lugremme te bedien of enige ander druklugtoerusting aan te dryf.
Die gedugte hidrouliese stelsel het sy eie, afsonderlike olietenk sodat hy nie olie met die ewenaar hoef te deel nie. Daar is hidrouliese koppelpunte agter en aan die kant vir die montering van toerusting soos ’n laaigraaf.
Vir die werk wat Woodburn Landgoed se mense in plantasies en suikerrietlande doen, is die trekker se groot grondvryhoogte ’n besliste pluspunt en uit ’n werktuigkundige se oogpunt was dit ’n wyse besluit om die remtrommels en hidrouliese stelsel buite die trekker te monteer sodat dit maklik en gou versien of herstel kan word.
Peter is ook ingenome met die Belarus se straallaagbande wat ’n beter vastrap en langer lewe as kruislaagbande bied – en teen min of meer dieselfde prys as kruislaagbande deur Variquip, die plaaslike invoerders van Belarus, verkoop word.
En so van pryse gepraat: Peter se navorsing toon aan dat Belarus se onderdele op sommige onderdele tussen 30 en 50 % goedkoper as dié van ander trekkers is, maar glad nie van ’n mindere gehalte nie. Boonop kan die Belarus se spoorstangkoppe verstel word om jou ’n veel langer diens te bied. Dit alles maak Belarus se eienaarskoste aansienlik laer.
Peter Woodburn van Woodburn Estates naby Ixopo is ‘n opgeleide trekker- werktuigkundige. Hy is ingenome met sy Belarus se 12 volt elektriese stelsel en 24 volt aansitkrag wat vir vinnige, sekere aansit in enige weer sorg. Belarus is ’n sterk, stewige, bekostigbare trekker wat beloof om jare en jare lank sy werk te doen, sê hy. |
Variquip is reeds bekend as die trekkeronderdelemense omdat hulle enige onderdeel vir enige trekker of landbouwerktuig het of kan bekom en blitsig aan kliënte oral in Suid-Afrika, maar ook in Swaziland, Zimbabwe, Zambië, Botswana, Lesotho en Mosambiek lewer.
Hulle weet watter onderdele nodig is en het ’n enorme voorraad, want Variquip se mense weet – geen boer kan bekostig om onnodig op onderdele te wag nie. So het Peter Woodburn hulle met hulle totstandkoming in 1994 leer ken, en so ken hy hulle vandag nog.
Variquip en Belarus is hier om te bly. Belarus bestaan immers reeds seder 1946 en is die derde grootste trekkervervaardiger in die wêreld.
Maak nie saak waar jy boer nie, Belarus bied jou presies die trekker en rugsteundiens wat jy nodig het. Praat met Sandy Clouston by 033-345-8084 of 082-490-6157 of stuur ’n e-pos aan sales@variquip.co.za. Besoek gerus ookwww.variquip.co.za en www.belarus.co.za.