Categories: NewsPublished On: 6th February 2012

Belê nou in vleis; plant gras

By 5 min read
914 words

Daar is geld in goeie vleis. Die Rooivleisprodusente-organisasie sê teen die einde van verlede jaar was die gemiddelde prys wat produsente per kilogram lewende gewig ontvang het, tussen 25,2% en 38,3% meer as in 2010.

Om die waarde van jou belegging in vee te ontknoop, beteken dat jy voorsiening moet maak vir goeie voeding deur die winter. Aangeplante weiding en ander voergewasse sorg dat wintertyd nie sukkeltyd hoef te wees nie.

Rudi Kusckhe, voergewasspesialis van Klein Karoo Saadbemarking, gee ‘n paar waardevolle wenke oor wintervoer:

1.    Die belangrikste beginsel is om te besef dat aangeplante weiding nie ‘n afskeepgewas is nie. As jy nie vir       aangeplante weiding wil sorg nie, bly liewer by natuurlike weiding wat aangepas is om natuurlike omstandighede te hanteer. Jy kry nie ‘n vet ou in ‘n konsentrasiekamp nie – as daar nie kos is nie, kan daar niks gebeur nie.

2.    As jy jou winteraanplanting beplan, onthou dat daar ‘n tydperk van 6 tot 8 weke gaan wees wat jy nie die gedeelte kan benut nie. Maak dus voorsiening vir ‘n oorbruggingsfase.

3.    Vir die grootte van die aanplanting kan die volgende norm gebruik word: As jy in die somer weiding onder besproeiing gehad het, moet jou aanplanting vir die winter dubbeld soveel wees om die soortgelyke drakrag te hê. Met ander woorde, 10 hektaar vir die somer, beteken 20 hektaar vir die winter om dieselfde aantal bekke kos te gee.

4.    Sorg vir behoorlike saadbedvoorbereiding. Alle winterweiding is fynsaadprodukte. Vir ontkieming het die sade goeie grondkontak nodig. Die gewasse verkies ook goed gedreineerde, gesonde grond.

5.    Sorg vir ‘n behoorlike vastrap-aksie. Jy kan maar kyk, daar waar die trekker se wiele geloop het, is die beste groei! Die gebruik van ‘n riffelroller (Cambridge) bly die beste praktyk. Jy kan dit selfs oorweeg om vir ‘n tweede keer te rol vir nog beter opbrengs. As jy net ‘n klein stukkie aanplant en nie ‘n roller het nie, ry maar met die trekker heen en weer. Jou opbrengs gaan vir jou meer beteken as die diesel…

6.    Benutting: Moenie te vroeg diere injaag nie, want veral beeste kan die plante met wortel en al uittrek. Onthou, wat jy van die plant bokant die grond sien, is ‘n aanduiding van wat met sy wortels onder die grond aangaan. As die gewasse so enkelhoogte (200 mm) is, kan dit bewei word.

7.    Rog wat gelos word, kan tot kophoogte groei en hawer kan heuphoog staan. Beide kan egter gesny en gebaal word as dit onder jou begin uitgroei.

8.    Onthou veral met mengsels dat daar ‘n smaaklikheidsverskil tussen gewasse is. Jou bestuur moet reg wees, anders gaan die diere net die lekkerste uiteet. Die veebelading moet van so aard wees dat daar vinnige en egalige ontblaring plaasvind. Boere se voorkeure verskil, maar intensiewe strookbeweiding bly ‘n goeie manier om weiding behoorlik te benut.

9.    Keuse van gewasse: Daar is gewasse beskikbaar vir droëland en besproeiing en dan is daar ook ‘n keuse tussen eenjarige en meerjarige gewasse. Koelweergewasse wat geskik is vir droëland, is hawer, rog, korog en radys. Onder besproeing kan raaigras, swenkgras, kropaargrasse en klawer verbou word. Saadmengsels van laasgenoemde gewasse is beskikbaar. Met raaigras is daar ook ‘n keuse tussen Westerworld, wat meer geskik is vir die vroeë seisoen, en Italiaanse raaigras wat in die nawinter en lente benut kan word. Dit kan selfs in die lente geplant word en vir 18 maande benut word, aangesien dit koue nodig het om saad te maak.

10. Meerjarige gewasse kan aantreklik klink, maar hou ‘n paar dinge in gedagte. Veral raaigras moet jaarliks versterk word met inplantings van tot 40%. As jy aanvanklik 25 kg/ha geplant het, sal jy die volgende seisoen 10  kg moet inplant. Die gras gaan ook deur produksiefases en daar is op- en aftye. Sy opbrengs is ongeveer 70% van sy eenjarige boeties. Swenkgras is werklik meerjarig, maar dit is minder smaaklik.

11. Radyswenke: Radyse kan teen hoë digtheid geplant word indien net die loof benut gaan word. As die knolle ook benut wil word, moet dit teen 2 tot 3 kg/ha aangeplant word. Aangesien skape versigtige eters is, kan hulle self die knolle uit die grond haal en vreet. Vir beeste moet die knolle uit die grond uit gelig word en dit is selfs beter om dit deur die kerwer te stoot, want die beeste kan verstik.

12. Planttyd: Radyse moet verkieslik voor die einde van Maart geplant word, veral as die knolle gebruik gaan word. In kouer dele is dit beter om teen die einde van Januarie al te plant. Hawer en raaigras kan in Maart en April aangeplant word. Vir goeie ontkieming moet die grond nog nie kouer as 10 grade Celsius wees nie.

13. Bemesting van hawer: let daarop dat hawer op droëland gewoonlik net met planttyd bemes word. Topbemesting kan die plantjies doodmaak. Onder besproeiing is topbemesting noodsaaklik, maar neem in ag dat daar 22 dae moet verloop van stikstofbemesting tot beweiding om nitraatvergiftiging te voorkom.

Ten slotte: dit is nie goedkoop om winterweiding te vestig nie (‘n saadmengsel kan tot R2 500 per hektaar kos). Dit is dus die moeite werd om moeite te doen om ‘n goeie opbrengs te verseker. Weiding wat nie afgeskeep word nie, is later goud werd in die vorm van vleis! 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0