Behaal ’n driedubbele mielievoorsprong: Oes hope voordele met Monsanto se stapelgeen
’n Wenwegspring in mielieboerdery is om Monsanto-saad te kies, want Monsanto-basters word gerugsteun deur al die kundigheid wat ’n groot span toegewyde telers in saadtegnologie kan pomp, wye internasionale ervaring en ’n enorme genetiese poel, deurlopende ontwikkeling van nuwe kultivars vir elke omstandigheid, en al die raad en steun wat ’n span slimkoppe elke boer op elke plaas in elke streek van die land bied.
Voorste genetika is die eerste voorsprong wat Monsanto die mielieboer gee.
Maar asof dit nie genoeg is nie, het Monsanto die voortou geneem om YieldGard-mielies te ontwikkel. Dit is mielies wat die boer se gevaarlikste vyand, die sluwe stronkboorder, uitknikker. En dit is die tweede voorsprong wat Monsanto die boer gee.
Stronkboorders vreet elke deel van die mielieplant: die stronk, blare, pluim, kopskag, kopblare en graan. Die skade wat hulle aanrig belemmer die beweging van water en voedingstowwe deur die plant en verlaag die opbrengs met enigiets tussen 6% en 30%.
En wanneer die stronkboorder nie aan jou mielies vreet nie, dan vreet hy aan jou bankbalans, want chemiese beheer van stronkboorders is ’n duur proses. In een seisoen kan tot drie verskillende geslagte stronkboorders op jou mielies toesak en elke keer moet jy gif spuit dat dit klap.
Boonop is chemiese beheer afhanklik van fyn tydsberekening wat as gevolg van klimaatsomstandighede nie altyd moontlik is nie. Dit is dus onwaarskynlik dat stronkboorders die hele seisoen lank doeltreffend chemies beheer kan word om alle moontlike skade uit te sluit.
Biotegnologie tot die redding!
Monsanto se geentegnologie, YieldGard, is ingeboude beskerming teen mieliestronkboorders.
Die beskerming word voorsien deur ’n bakterie, Bacillus thuringiënsis (Bt) wat natuurlik in die grond voorkom.
Met Monsanto se gevorderde tegnologie word die Bt-geen deel van die mielieplant gemaak, waar dit ’n proteïen produseer wat die stronkboorder wat dit inkry se maagwand afbreek. Na net ’n paar happies hou hy op met vreet en vrek binne 72 uur, sodat jou mielies in rus en vrede verder kan presteer.
Bt doen niks anders as stronkboorders skade aan nie, so, as jy nie ’n stronkboorder is nie, kan jy maar tot barstens toe smul aan heilsame, gesonde YieldGard-mielies.
Dit het geen uitwerking op ander insekte, voëls, visse, diere of mense nie, inteendeel, dit hou die groot voordeel in dat minder gif gebruik hoef te word wat die omgewing en jou werkers kan benadeel.
Die groot lekkerte van YieldGard is dat die Bt-proteïen teen doeltreffende dosisvlakke in die plant teenwoordig is vanaf ontkieming tot rypwording. Die stronkboorders kan dus maar kom wanneer hulle wil – hulle gaan op hulle herrie kry en hulle gaan nie jou oes benadeel nie.
Die enigste gevaartyd kan wees as oordonderende getalle stronkboorders net na blom toesak, sodat elkeen se paar happies voor hy omkap tot geringe skade kan lei. Dit mag dus soms in die geval van ’n laat aanplanting nodig wees om te spuit.
Onafhanklike proewe bewys dat jy jou opbrengs met tussen 10% en 30% kan verhoog met YieldGard en dat dit meer as 95% beheer oor stronkboorders bied.
Doen met ’n miljoen!
Boere soos Theunis en Gerrit Pretorius van Ficksburg het in net een seisoen byna ’n miljoen rand meer wins uit hulle mielies gemaak deur YieldGard te kies.
’n Verdere baie belangrike voordeel van YieldGard is dat dit vreetskade aan mieliekoppe beperk. Daar is dus minder plekke waar fusarium-swamme kan groei. Fusarium-swamme produseer giftige stowwe.
Met YieldGard voeg Monsanto stronkboorderbeheer tot die beste basters toe, sodat die beste genetika behoue bly en die plante boonop die kans kry om onbelemmerd tot hulle volle potensiaal te ontwikkel.
’n YieldGard-baster kan uitgeken word deur ’n “B” agter sy naam.
Ontmagtig onkruid
Die derde voorsprong wat Monsanto die mielieboer gee, is Roundup Ready-mielies. Dit is mielies wat tot in die ware agtblaarstadium niks oorkom as hulle met Roundup Ready-onkruiddoder (L 7966) gespuit word nie. ’n Roundup Ready-mielie word uitgeken aan die “R” agter sy naam.
Soos alle boere weet, het verskillende soorte onkruid die gewoonte om ongenooid in mielielande te verskyn en die water, voedingstowwe en selfs sonlig wat vir die mielies bedoel was vir hulleself toe te eien sonder om self ’n snars tot die samelewing se heil by te dra.
Hulle skuil tussen jou mielieplante sodat jy hulle moeilik uitroei sonder om jou mielies ook skade aan te doen en selfs nadat jy gestroop het, besoedel hulle ongewenste sade jou mieliemonster en verlaag jou gradering en dus die prys wat jy behaal.
Onkruid in ’n mielieland is ’n parasiet en ’n pes en ’n kopseer vir die boer.
Maar plant Roundup Ready-mielies en die prentjie verander. Jy kan nou met die spuit deur die land beweeg om onkruid op hulle plek te sit sonder dat jou mielies enigiets oorkom.
Roundup Ready-onkruiddoder bied jou breëspektrum onkruidbeheer. Dit beheer sowel gras- as breëblaaronkruid, eenjarig of meerjarig sonder aansiens des persoons. Dit beteken ’n einde aan die ewige ergenis en verliese veroorsaak deur kankerroos, olieboom, uintjies, kruisvingergras, Johnsongras en kweek in die land en op die wenakkers.
Dit beteken ook minder arbeid, ’n skoner graanmonster, verlaagde chemiese koste omdat jy net een onkruiddoder hoef te gebruik om alle onkruid op te dons, verhoogde opbrengs, ontworsteling van lande uit die kloue van onkruid, beter bewaringsbewerking, eenvoudiger bestuur en die gemoedsrus dat jy die vrug van jou arbeid sal kan geniet.
Boere is veral verheug oor die buigsaamheid van toediening wat Roundup Ready Plus-onkruiddoder hulle bied. Dit word blitsig opgeneem en ’n skamele uur na bespuiting kan dit maar reën – jou Roundup Ready Plus sal sy werk doen.
Boonop kan dit in enige groeistadium van die gewas toegedien word, alhoewel gerigte bespuiting na die agtblaarstadium nodig is, en die grootte van die onkruid bepaal die dosis sodat jy nie mors nie.
Vir die boer beteken dit dat hy regdeur die plant se hele lewe onkruid doeltreffend kan hokslaan, dat bestuur makliker is en dat jy net hoef te spuit wanneer daar wel onkruid is.
Dit alles beteken meer geld in die boer se sak.
Probleem!
Die enigste probleem wat boere tot verlede jaar gehad het, was dat hulle moes kies tussen YieldGard- en Roundup Ready-tegnologie. Jy moes besluit wie jou grootse vyand is: stronkboorder of onkruid, want jy kon net een van die twee tegnologierigtings kies.
Die goeie nuus is dat Monsanto se stapelgeenmieliekultivars nou goedgekeur is, wat beteken dat die boer nou op een slag vir ’n driedubbele voorsprong kan plant: Monsanto se normale genetiese uitmuntendheid, Monsanto se stronkboorderbeheer en Monsanto se onkruidbeheer. Hierdie voortreflike stapelgeenbasters word uitgeken aan die “BR” agter hulle naam en dit kon net so wel vir Baie Rande in die boer se sak gestaan het.
Vir meer inligting oor Baie Rande in jou sak met Monsanto se stapelgeentegnologie, praat met Magda du Toit by (011) 790-8200 of faks (011) 790-8250 of e-pos magda.du.toit@monsanto.com. Magda kan jou ook vertel wie die op en wakker Monsanto-verteenwoordiger naaste aan jou is.