Beefmaster groei om vleisvraag te bevredig
BoeBeefmaster-groei-om-vleisvraag-te-bevredig/p>
Dit is waarom die Beefmaster Telersgenootskap ingestel is op streng gehaltebeheer tot voordeel van al sy lede.
’n Stewige stel beginsels vorm die grondslag van die Beefmasterras. Telers meet vandag nog hulle kuddes aan die sespunt-plan wat in die dertigerjare van die vorige eeu deur die vader van die ras, Tom Lasater, neergelê is. Hy het die beginsels gebruik vir sy wetenskaplike kruisteelprogram tussen Korthoring, Hereford en Brahman in die harde wêreld van Texas.
Die ses onmisbare eienskappe is vrugbaarheid, gehardheid, groeivermoë, melkproduksie, bouvorm en temperament. Hoewel die ras eers in 1987 in Suid-Afrika geregistreer is, het plaaslike boere gou die voordele van Beefmasters ingesien en in al die bekende beesstreke van die land is daar uitgebreide kuddes.
Die Telersgenootskap se streng seleksie- en opgraderingsbeleid maak dit moontlik om met geselekteerde kruisraskoeie en Beefmasterbulle aan die Beefmasterprogram deel te neem. ’n Oop-kudde registrasiestelsel word gevolg, met verpligte deelname aan prestasietoetsing en die toepassing van BLUP-tegnologie vir teelwaardes.
Na vier geslagte van inspeksie en keuring word goedgekeurde diere as suiwer Beefmasters geregistreer. Daar is geen kleurvereistes nie, ook na aanleiding van die waardes wat Tom Lasater neergelê het. Een van sy bekende sêgoed was dat die kleur van die bees nie saakmaak as die T-been op jou bord lê nie!
Wat wel baie belangrik is, is vrugbaarheid. Dit is ook waarom die volgende vereistes nougeset toegepas word: ’n Vers moet kalf voor sy 39 maande oud is, ’n kalf-interval mag nie 730 dae oorskry nie en sy moet minstens twee van enige drie opeenvolgende kalwers tot op speenouderdom grootmaak.
Nuwe lede wat by die Beefmaster-familie betrokke raak, word ondersteun met ’n volledige handleiding wat al die inligting oor rasvereistes, registrasieprosesse, die merk van kalwers en selfs die vereistes rondom die gebruik van KI en embrio-oorplasings uitspel. Dan is daar natuurlik ook plaasbesoeke deur keurders wat waardevolle wenke aan boere gee.
Suid-Afrika kan nie voorbly om aan die behoeftes van sy groeiende vleisetende bevolking te voldoen nie. Dit maak dus al hoe meer sin om ’n vleisras te ondersteun wat bekend is vir vinnige groei, vrugbaarheid en gehardheid.