Categories: NewsPublished On: 9th July 2010

Basterkrag laat speenkalwers geil groei

By 4 min read

Basterkrag is die geheim van Fourie Ven­nootskap se sukses.

Kareeputs is op die grens van die Kalahari, naby Daniëlskuil. Dit is waar Jans Fourie en sy pa, Thys, woeker met die gekombineerde krag van Simmentaler en Brahman.

Jans is al die vierde geslag Fourie wat op die plaas boer en te oordeel aan die sukses wat hulle behaal, gaan Simbras beslis deel van die bloedlyn op Kareeputs bly!

Jans sê hulle hoofdoel met die kruisteelprogram tussen Simmentalers en Brahmane is om speenkalfprodusente die beste koeie te voorsien vir spog speenkalwers.

Tydens hulle 18de produksieveiling op 28 Mei gaan hulle weer presies dit doen. Met sowat 300 dragtige verse en 100 dragtige koeie waarvan sommige kalwers het, kan enige speenkalf­boer sy beursie maar saambring.

Daar gaan ook tien topbulle wat hulle self geteel het, aangebied word. Dit is die tweede jaar dat Fourie Ve­nnootskap se eie bulle op die veiling aangebied word.

Vrugbaarheid is bo aan die lysie van teeldoelwitte. Maar ’n koei wat van Fourie Vennootskap af kom moet nie net vrugbaar wees nie; sy moet gehard wees, met gemak kan kalf en kal­wers lewer wat vinnig gewig aansit. Dit is waarom die goeie melkeienskappe van die Simmentalers so belangrik is.

Speenkalfprodusente wen uit die kruisteelprogram diere wat nie net gehard is om op die veld te oorleef nie, maar wat ook goeie vleisproduksie lewer.

Die vleiswaarde is nie net hoorsê nie. Dit bewys die Fouries in hulle eie voerkraal waar hulle ses maande van die jaar osse afrond. Die osse word op 15 maande (330kg) in die voerkraal gesit en op gemiddeld 500 kg lewende gewig geslag. 

Met die Nasionale Karkas­kompetisie van Oktober verlede jaar het Fourie Vennootskap se Simbras topprestasies in die plaaslike afdeling gelewer. Vir ’n enkel karkas is 99,78% behaal en vir ’n groep van drie karkasse 99,05%. Alle oë is nou op die nasionale uitslae wat later vanjaar verwag word.

Die vroulike diere word almal van die veld af bemark waar hulle die minimum byvoe­ding kry.

Kareeputs is bekend vir sy ietwat omstrede weidingstelsel. ’n Tweekampstelsel word gebruik. Dit beteken dat die hele trop een jaar op die een helfte van die plaas wei, waarna hulle na die ander helfte oorgeskuif word.

Die voordele van die stelsel blyk uit die feit dat die Fourie’s 20% meer grootvee-eenhede per hektaar kan aanhou as die norm in die streek.

Die stelsel sorg dat die beeste nie net lekkerbekkig agter sawwe groen grassies aanloop nie, maar al die weiding doeltreffend gebruik.

Die gedeelte wat oorlê, kry ook ’n volle jaar jaar kans om te rus en te herstel. Jans sê ander boere in die omgewing begin nou ook om die stelsel toe te pas, wat ’n bewys is van die sukses van die baanbrekerswerk wat gedoen is.
Riaan Dames, ’n weidings­kundige van Vryburg het ook ’n waardevolle bydrae gelewer in die ontwikkeling van die stelsel.

Die Fouries se teelprogram is eenvoudig, maar doeltreffend. Op die verse wat meer Simmentaler-eienskappe toon, word opregte Brahmanbulle gebruik en Simmentalerbulle op die Brahmantipe verse.

“Ons gebruik bulle van telers in die omgewing, omdat ons weet dat hulle reeds vir die omstandighede aangepas is,” sê Jans. ’n Bul wat sy kant bring, kan ook weet dat hy vir ’n hele klompie jare ’n tuiste sal hê in die uitgebreide boerdery.

Oor mense wat moontlik bekommerd is oor die Brahman-invloed op die gemoedelike Simmentalers, het Jans net een ding te sê: “Enige bees wat gewoond is aan sy baas, is hanteerbaar.” Op Kareeputs word daar ekstensief geboer, maar dit beteken beslis nie dat die beeste nooit mense sien nie.

’n Deeglike gesondheidsprogram word gevolg en kopers by die veiling kan gerus wees dat al die beeste vir brucellose en TB getoets is. Dragtigheidstatus is ook bevestig.

By die veiling op 28 Mei gaan ook boerbokke van hoë gehalte aangebied word. Die ramme en ooie wat op die veld grootgemaak word, is veral gesog.

Jans sê soos elke jaar gaan die veiling ’n lekker kuiergeleentheid vir die boere wees. Baie moeite word gedoen om kopers en besoekers te laat tuis voel op dié dag waarop Kareeputs se hekke oopgegooi word.

Vir meer inligting, skakel Jans Fourie by 083-321-2896 of Thys Fourie by 082-852-0597.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0