Categories: NewsPublished On: 17th May 2011

Baie kragdiewe is boere sê Eskom

By 2 min read
Onder groot en medium kraggebruikers is boere verantwoordelik vir 48% van die elektrisiteit-diefstalgevalle, het ‘n nasionale ouditverslag bevind. Dit beteken dat die landboubedryf die hoogste voorkoms van elektrisiteitdiefstal het, het Eskom in ‘n verklaring gesê. 
 
Eskom besoek tans Nampo om sy boodskap eersdaans aan die bedryf te bring, naamlik dat hy geen genade aan kragdiewe gaan betoon nie. “Operasie Khanyisa” is Eskom se veldtog teen die nie-betaling van elekrisiteit. Hulle wil ook kraggebruikers opvoed ten opsigte van die verantwoordelike en spaarsame gebruik van elektrisiteit.
 
‘n Woordvoerder van Eskom, mnr Maboe Maphaka, het  gesê  hulle wil boere “mobiliseer” om onwettige kraggebruik te raporteer. 
 
 “Ondersoeke het aan die lig gebring dat sindikate op groot skaal regoor die land aan die werk is en boere aanmoedig om met hulle kragaansluitingspunte te laat peuter” het mnr Maphaka gesê. Blykbaar is Eskom se werknemers ook by dié bedrywighede betrokke. Daar word tot R3000 per meter of per punt gevra, het mnr Maphaka gesê.
 
Volgens Eskom werk hy met verskeie organisasies mee om begrip vir die invloed van elektrisiteitdiefstal by die landbougemeenskap tuis te bring en om energiedoeltreffendheid te bevorder. Daar is velerlei maniere is om krag te spaar en koste te besnoei en dit is dus nie nodig om mens tot misdaad te wend nie het  mnr Maphaka gesê.
 
“Uiteindelik moet ons almal ‘n mate van verantwoordelikheid neem. As boer is jou invloed en rol waarskynlik baie meer betekenisvol as wat jy besef. Dit is nie net jou saak wat daarby sal baat om meer energie- en kostedoeltreffend te raak nie, maar Suid-Afrika as geheel” het hy gesê.
 
Mnr Johannes Möller, Agri SA se president, het gesê dat sy organisasie teen alle vorme van misdaad gekant is. Agri SA is besonder bekommerd oor die tendens van elektrisiteitdiefstal onder boere. “Boere wat krag steel het ‘n onregverdige voorsprong bo die meerderheid van wetsgehoorsame boere” het hy gesê.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment