Categories: NewsPublished On: 24th September 2011

As dit die dag reën…

By 6 min read
1230 words
Aan Jannie
 
Die boere wat kla; wat heeldag kla; pure verniet kla! Aan die praat van daardie meesters van jou te oordeel, moet dit glo vir ‘n boer heerlik wees om te kla.
 
Dis maar die ou laai. Hier by ons op die dorp het hulle een slag glad vertel van ‘n boer wat gekla het dat dit met hom te goed gaan.
 
Dié jaar, vertel hulle, het dit pragtig gereën, milde deurdringende reëns in die winter, en net toe die oubaas sy koring af het en sy trekgoed weer agtermekaar het, toe kom die somerreëns.
 
Die ou se skure het oorgeloop van die koring. Die barste het sommerso oop onder die ertappelstoele gelê soos die knewels die grond van onder opstoot.
 
Die dominee het kom kollekteer:
 
“’n Pragtige jaar, Oubaas,” sê die dominee terwyl hy met ‘n handgebaar op die lappe, lappe mielies wys wat alweer blou in die saad staan. “En hoe gaan dit?”
 
“Nee, so tussen die boom en die bas,” sê die ou. “So ‘n reënjaar put ‘n man se grond darem vreeslik uit.”
 
Die kla van die boer, vertel ou Saks, is maar ‘n gewoonte, soos die sout-oor-die-linkerskouer-gooi van die dorpenaars en die gou-aan-hout-raak van die geleerde man wat vrees dat hy dinge te rooskleurig voorstel.
 
Ou Saks lê die ding snaaks uit. Die kla-gewoonte, sê hy, en die sout- en die houtgewoonte, spruit uit die bygeloof van die donker eeue toe ons voorouers, omring van die bose geeste, gevrees het dat as die geeste hoor dat dit met ‘n man goed gaan, hulle jaloers kan word en hom kwaad aandoen.
 
Die boere, sê die ou, het die naaste aan die houtbosse gewoon waarin die geeste hulle skuilgehou het. Daarom dat die kla-gewoonte die diepste by die boere ingewortel het.
 
As dit so is, dan het ons voorouers darem nie almal na aan die houtbosse gewoon nie. Een ou oom wat ek in die Boland raakgery het, het glad van plae gehou. Hy het met kwepers geboer – nie sommer kweperlanings langs die watervore soos hier by ons nie. Hy was ‘n agtermekaar kweperboer. Sy bome het een-een gestaan soos enige ander vrugtebome. Hy het hulle behoorlik bewerk, gesnoei en bemes en die grond op sy tyd water gegee. Toe ek die dag by hom kom, staan die boë spuitstof sommerso wit bo die kwepers soos hy met die kodlinmot woel.
 
“Swaar dat ‘n man so moet sukkel om sy ou vrugtetjies gesond te hou,” sê ek.
 
“Nee, glad nie,” sê hy. “Ek dank die Heer elke aand dat daar motte onder die kwepers is.”
 
“Hoe so, Oom?”
 
“Kwepers groei maklik, Neef. As daar nie plae onder goed was nie, sou die mense die mark oorlaai. Maar omdat die motte swaar is om uit te roei, gooi die meeste kweperboere tou op en dan kry ek en ‘n ander wat moeite doen, darem kans om ons vrugte van die hand te sit.”
 
Ek wonder partymaal of ‘n dorpenaar, of een van daardie slim kêrels daar by julle, dit op ‘n plaas sou maak as die vaal droogtekolle so in die gesaaides wys en jou vrou aan die winkelskuld dink en benoud vra hoe lank die lande nog kan hou.
 
“Moeder,” probeer jy die blink kant bo hou, “die mielies brand al plek-plek, maar op die braaklande hou hulle darem nog. As dit maar hierdie week reën, sal ons vanjaar nog mielies wen, genoeg vir die huis en vir die volk; miskien ‘n paar honderd sak oor om te verkoop.”
 
Die wind waai, en waai ook nie; vandag suid, môre oos, oormôre wes. En dan begin die rondomtalie maar weer: suid, oos, noord, wes, en geen die minste teken van reën nie.
 
Op die ou-land staan die mielies wit gebrand; op die braaklande begin hulle saadskiet. As dit dié week nie reën nie, is jou hele mielie-oes in sy verstand in. Van graan verkoop en skuld afbetaal, is daar geen sprake meer nie.
 
Die hitte is verskriklik. Voormiddag groei die wolke. Namiddag verdwyn hulle. Sondag, Maandag, Dinsdag, Woensdag, die een dag warmer as die ander.
 
Donderdag is jy bang om op die middag na jou lande te gaan kyk. Jy sal liewer môre vroeg opstaan. Miskien kom die kafferkoring vannag in die koelte darem weer reg, so nie die hele land nie, dan tog op die koppenente. Die son word vir jou te veel. Jy gaan huis toe. Om skuiling teen die hitte te soek, kruip jy onder jou bed in.
 
Die noordewind waarvoor jy gebid het, begin te waai. Die weer kom op. ‘n Gerammel van donder; ‘n paar druppels op die dak. Vrydag, Saterdag, Sondag, die een dag soos die ander en geen reën nie.
 
Die jong kom vertel dat die water in die spaarkamp op is. Omdat die pomp lug skep, het hy die briek maar aangedraai. “En daar lê ‘n koei dood, my Baas. Nee, ekke weet nie. Hy sommer doot. Hy banja maer.”
 
Jy sien aasvoëls neerval. “Blommetjie het gekalwe,” lê die jong die oorsaak vir jou uit. “Hy swak, my Baas. Hy kan nie opstaan nie. – Ja, – daar oender by die kareebome, my Baas. Die kalfie ly honger.”
 
Jy dink benoud aan die koeie wat aanstaande maand moet kalwe. Die jaar se geploeg is vergeet, die geëg en geskoffel, die saad wat jy gemors het, die volk wat jy verniet betaal het. As die Heer maar gee dat jy jou beeste behou!
 
Die wind waai alweer wes. Die Kalaharisand streep rooi oor die vlaktes. Omdat daar geen melk is nie, laat jy die volk mieliemeel vir die hanskalwertjies aanmaak – teen jou beterwete, maar jy kan dit nie oor jou hart kry om die goedjies te laat keelafsny nie… Ek wonder of daardie slim kêrels dit sou uithou totdat die eendag weer reën.
 
En as dit die dag reën, dan kom die winkelrekeninge en die dagvaardings (die dorpenaars verbeel hulle mos dat dit op ‘n plaas geld reën), dagvaardings en bloutong en dikkop; geilsiekte en sweerklou; galsiekte, rooiwater, haarwurm, haakwurm, bankrotwurm… ‘n Boer kla nie verniet nie.
 
Jou ma sê sy het jou vertel van die donderbuie wat ons nou die dag sommerso onverwags uit die westekant gekry het. Dit het mooi gereën. Die damme is vol en hier voor op die werf stoot die grassies al geel-groen deur die opdrifsels op. Die veld sal groei. Maar dit het te vroeg gereën. Ons kan vanjaar bloutong te wagte wees. Dikkopsiekte ook as dit nie gou weer reën nie.
 
En of dit nou gou weer reën of nie, bosluise sal November se kant volop wees.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0