Angus is die bees vir ons tyd
Die dae van R800 per ton vir mielies, R1 000 per ton vir kunsmis en R4 per liter vir brandstof is vir altyd verby. Boere moet aanvaar dat insetkoste die hoogte inskiet en dat produkpryse redelik konstant bly – en in sommige gevalle selfs laer is as die jaar tevore.
Dit is die faktore wat tel wanneer daar op ’n beesras besluit moet word. Beeste wat ’n gehalte produk kan lewer op beperkte insetkoste is die beeste wat steeds winsgewend sal wees. Chris Purdon van Cathcart in die Oos-Kaap se
VJ Angus-stoet is ’n uitstekende bewys van dié beginsel.
Chris sê: “Koeie met baie melk en baie groei benodig meer voeding om net hulle liggaamskondisie te behou, laat staan nog om ’n snelgroeiende kalf te produseer. Om hierdie rede glo ek dat koeie wat laer onderhoud en laer insette benodig, beter in ons huidige ekonomiese omgewing sal pas.”
Hy glo dat teelprogramme aangepas moet word om klem te plaas op die ekonomiese eienskappe wat belangrik is in ’n wêreld van duur energie en duur insette. In die verlede het alles daaroor gegaan om die grootste bulle uit die hoogste produserende vroulike diere te kies. In die toekoms moet daar meer pogings wees om grootte en produksie te verlaag tot ’n vlak wat by die omgewing en produksiestelsels pas.
Eienskappe soos vrugbaarheid en lae-insetomgewings is belangriker as groei en melk. Wat nou tel, is prestasie sonder massas graan, kalfgemak, goeie uierstruktuur, hoogs funksionele pote en bene, makheid, langslewendheid en vleisaansettingsvermoë.
Dit is nie so maklik om te sien en te meet soos produksie-eienskappe nie, maar dit is die geheim vir die toekoms. Met sy vleisaansettingsvermoë en gerieflikheidseienskappe is Angus deel van die oplossing.
Chris sê: “Hier by VJ Angus het ons uit die staanspoor die ekonomiese weg gevolg en ons is perfek geposisioneer om mee te ding met ons hoë-groei broeders met grootnommer-genetika, ’n oorblyfsel uit die vervloë dae van goedkoop energie, goedkoop voer en goedkoop kunsmis.”
Op Chris se plaas, Glenfinlas, in die Oos-Kaapse berge het VJ ’n goeie seisoen beleef en die diere lyk pragtig. Die veilingsbulle is byna gereed vir die middelseisoenseleksie. By die produksieveiling op 10 September sal daar
genoeg dragtige vroulike diere ook wees om aan kopers se behoefte te voldoen.
Volgens Chris verseker die genetika wat hulle gebruik, asook die veeleisende omgewing, dat hulle “werkersklasdiere” winsgewend sal wees in enige ekonomiese omstandighede.