Angus-beeste-help-studente
Die Boland Kamerade hou hierdie jaar op Woensdag 22 Junie hulle 4de produksieveiling by Rustenberg Wynplaas in Stellenbosch.
Die gesogte middagveiling, enigste in sy soort in Suid-Afrika, word gehou deur Gielie Geldenhuys, Dirk Giliomee en Nico Olivier (Boland Kamerade Angus-groep). Hierdie veiling het in die laaste vier jaar vreeslik gewild geword, nie net onder die Suid-Afrikaanse Angus-telers nie, maar ook onder die publiek.
Die geleentheid word ook gebruik om geld in te samel vir die liefdadigheidsorganisasies; die Boland Kamerade Opvoedingsfonds en die Rustenberg Opvoedingsfonds. Die doel van hierdie fondse is om jong studente of leerlinge wat finansieel sukkel, die geleentheid te gee om hul lewensdroom te verwesenlik deur te help met die koste van hulle opvoeding.
By verlede jaar se veiling is ‘n Suid-Afrikaanse rekord behaal vir die jongste vroulike koei onder die ouderdom van 7 maande.
Die dag sal begin met besigting van die diere wat gevolg sal word deur die veiling. Daarna is daar die gewilde Checkers Classic Angus Beef “Steak Braai”-kompetisie. Hierdie jaar se deelnemers is: Divan Serfontein, FC Smit, Hempies du Toit, Jan Boland Coetzee, Louis Blom, Neil Burger, Tiaan Strauss, Toks van der Linde en Wessel Lightfoot. FC Smit het verlede jaar die titel smaaklik verower! Craig Backhouse, die hoof-sjef van Ernie Els se restourant, The Big Easy, sal die wenner vir 2011 aanwys.
Hy sal ook ‘n vleishanteringsdemonstrasie aanbied om die gehalte en veelsydigheid van Angus-beesvleis te vertoon.
Besprekings is noodsaaklik: Stuur ‘n e-pos na admin@exactafrica.com of skakel Michelle by 021-883-9042.