Categories: NewsPublished On: 31st August 2011

ANC-se-grondvoorstelle-plaas-druk-op-voedselsekerheid

By 3 min read
642 words

Elke kommersiële boer in Suid-Afrika produseer kos vir gemiddeld 1 100 mense. Die adjunkminister van Landbou, dr Pieter Mulder sê in die lig van hierdie feit behoort Suid-Afrika baie meer te doen om te sorg dat die kommersiële landbousektor nie tot niet gaan nie. 

Dr Mulder het by TLU SA se jaarkongres gesê as ‘n land eers een keer sy kommersiële landbousektor verloor het, is dit amper onmoontlik om dit weer op te bou. Hy sê ‘n verteenwoordiger van Tanzanië het onlangs aan ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging gesê hulle wens hulle kon al Suid-Afrika se boere in hulle land kry om hulle landboubedryf te stimuleer. 

Dr Mulder sê daar is verbeteringe in die groenskrif op grond wat verwelkom moet word, maar die planne om ‘n plafon op grondbesit te stel en om kwotas vir produksie te stel, skep baie kommer. Hy het ‘n beroep op TLU SA gedoen om intensief deel te neem aan die openbare gesprekvoering oor die groenskrif. 

Die tema van vanjaar se kongres is: Die naionale balansstaat: Landbou – bate of las? 

Mnr Ben Marais, president van TLU SA het in sy presidentsrede met betrekking tot die tema gesê die regering is besig om die landboubalansstaat ideologies te vernietig. Boere probeer om ten spyte daarvan die landbousektor uit te bou.  

Mnr Marais sê ’n balansstaat is die resultaat van ekonomiese besluite en politieke besluite. Die regering werk op die Vryheidsmanifes van 1955. Hulle wil ekonomiese bevryding laat realiseer en hou aan met die argument dat rykdom verdeel moet word. 

Die probleem is net dat die koek nie uitgedeel kan word as daar niemand is wat ’n koek bak nie. 

Hy sê uitsprake van nasionalisering en grond neem sonder vergoeding skaad beleggersvertroue.  Dit is ook onrusbarend om die magsvertoon te sien soos hierdie week in Johannesburg. Hy sê as die jeug die oorhand kry met dit wat hulle wil laat gebeur, flikker rooi ligte en sal doodsklokke lui as hulle nie summier vasgevat word nie. Die ANC is volgens mnr Marais huiwerig om hulle vas te vat en dit lei daartoe dat beleggers geen vertroue het om verder te investeer nie. Daarom word indiensneming ook nie uitgebrei nie. 

Hy sê die leuen oor die geskiedenis van grond word al so baie herhaal dat dit geglo word.

Mnr Marais het boere gewaarsku om nie deur die politieke tsoenami onkant gevang te word nie.  As meer grond wat oorgedra word in onbruik verval, sal dieselfde kos-opstande ons voorland wees soos die geval was in Egipte en Malawi.  

Hy sê TLU SA huiwer nie om met enige instansie in gesprek te tree nie. “Ons wil ’n landboutoekoms vir ons lede hê. Ons sal moet leer om onsself te bemagtig. Leiers sal onwrikbaar standpunt inneem op verantwoordelike wyse en ons geloof sal ons fondament bly.” 

Hy het ook die lede en amptenare van TLU SA bedank vir hulle ondersteuning van die afgelope drie jaar wat hy president was. Mnr Marais het aangedui dat hy weens gesondheidsredes nie langer beskikbaar sal wees vir die posisie nie.  

Met die aanvang van die kongres is daar ’n mosie van meegevoel ter tafel gelê teenoor almal wat in die afgelope jaar familie en vriende aan die dood moes afstaan veral as gevolg van plaasaanvalle en ook teenoor mense wat in die onlangse veldbrande baie skade gely het – selfs lewensverlies.

 

Daar is heelwat buitelandse belangstelling in TLU SA se kongres en afgevaardigdes van Georgie het oor die land se samewerking met TLU SA gepraat.

ProAgri is ‘n borg van die kongres – Esta van Niekerk (ontwerper) en Annemarie Joubert (redakteur) skud graag blad met die boere!

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0