Amerikaanse “buffel” word Afrikaans
Een van die dae, as alles reg loop, sal jy ‘n heerlike beefalo-(bief)stuk op die kole kan braai.
‘n Suid-Afrikaanse student is besig met ‘n navorsingsprojek om bison-gene op Afrikanerbeeste te gebruik. In Amerika staan die kruisras tussen beeste en die eens amper-uitgestorwe inheemse bison as beefalo bekend.
Nic Toerien, honneursstudent in Landboubestuur aan Kovsies, het vroeg in sy finale jaar voorgraadse studies, intensief op die beefalo begin navorsing doen, en is reeds deur die Amerikaanse Beefalovereniging as een van die wêreld se voorste kenners van hierdie kruisras beskryf. ‘n Handleiding wat hy vir beefalo-vestiging in Suid-Afrika saamstel, word gereeld aan die Amerikaanse Beefalovereniging voorgelê, en op hulle aanbeveling bygewerk of verander.
Die voordele van die beefalo is dat dit die beste eienskappe van die bison en die vleisbees kan kombineer. Toetse toon dat die beefalo bykans geen skadelike cholesterol in die vleis bevat nie. Dit is besonder ryk aan voedingstowwe, en bevat ook vitamine A.
Die beefalo kan natuurlike weiding goed benut, bied meer weerstand teen hitte en koue en het ‘n langer leeftyd as ‘n gewone bees. Om te bepaal watter Suid-Afrikaanse bees waarskynlik die beste vir beefalo-teling gebruik kan word, het Nic verskillende beesrasse bestudeer en uiteindelik op die Afrikaner besluit. Die Afrikaner is nie net bekend vir sy sagtheid nie, maar is self skraps aan cholesterol as dit as veldbees aangehou word.
Aangesien die bison en die bees tot verskillende genusse behoort, is enige kruisteelprojek ‘n risiko. Gewoonlik word beessemen op bisonkoeie gebruik, maar as gevolg van die probleme met invoerbeperkings sal Nic van bison-semen op Afrikanerkoeie gebruik maak. Nic het onlangs ‘n voorlegging aan die bestuur van die Afrikanerbeestelersvereniging gedoen, en die vereniging se volle samewerking gekry. Die vereniging het besluit dat stoetdiere vir die projek gebruik moet word.
Die doel van Nic se studie is om die beste vestigingsmetodes vir beefalo in Suid-Afrika te bepaal. Nic wil ook vasstel of die beefalo die suurgras vreet wat in die winters soveel probleme met veldbrande veroorsaak.
Nou is dit net ‘n kwessie om genoeg geld bymekaar te kry om die strooitjies in te voer en ‘n paar Afrikanerkoeie te KI. Boere wat belangstel om by die navorsingsprojek betrokke te raak, kan met Nic kontak maak by nictoerien@yahoo.com.