Akwaponika: Bakterieë kan die wêreld red!
Gesond wees begin by gesond eet. Die sosiale media gons oor superkosse, oor allergieë wat moontlik deur gifstowwe veroorsaak kan word, oor diëte sonder stysel en suiker, oor die voordele en nadele van vleis en oor organiese produksie. In organiese produksie word die bakterieë in die grond aangemoedig om hulle werk te doen vir die voeding van plante.
Die woord, bakterieë, laat dikwels mense se hare rys, want dit word omtrent altyd in ’n negatiewe sin gebruik, soos bakteriese infeksie; dis nou die deel van verkoue wat jou laat nies en proes. Onlangs was listeriose in die nuus en gereeld word van e.coli-vlakke gepraat. Dit het alles met bakterieë te doen. Mense sien bakterieë as kieme wat siekmaak.
Huishoudelike ontsmettingsmiddels word bemark as middels wat bakterieë doodmaak en die bakterieë word uitgebeeld as nare klein goggas wat nie kan wag om jou aan te val nie.
Bakterieë word doodgespuit, doodgebrand of doodbelig. Dit is een van die wonderwerke van die natuur dat bakterieë nog ’n manier vind om te oorleef in die totale aanslag teen hulle.
Elkeen van ons moet dankbaar wees daarvoor, want sonder bakterieë kan ons nie leef nie. Al die prosesse in die natuur sal gaan stilstaan sonder bakterieë. Daar sal geen kos geproduseer kan word nie en jou liggaam sal geen voedingstowwe kan opneem nie.
In die HG Wells se boek, The War of the Worlds (1898), wat deur Orson Welles se radiodramavertolking in 1938 bekend gemaak is, is bakterieë darem die wenners. Geen oorlogsmasjiene kon die aanvallers van Mars stuit nie, maar gewone bakterieë, waarteen hulle geen weerstand gehad het nie, het hulle ondergekry.
In plaas daarvan dat bakterieë as internasionale lewensredders vereer is, het die aanslag teen hulle in felheid toegeneem na die Tweede Wêreldoorlog toe daar ’n afset gevind moes word vir die chemiese neweprodukte wat plofstoffabrieke opgelewer het.
Daar is weggedoen met natuurlike bemestingstowwe en kunsmis is bemark as die enigste pad vorentoe. Dit was ook die begin van die era van chemiese beheer van onkruid en peste.
Boere wat in ’n uiters mededingende mark ekonomies wil oorleef, het nie werklik veel van ’n keuse nie. Hulle gee kunsmis en hulle spuit, want die winsgrense is klein en aankopers verwag perfekte produkte.
Meganisasie, outomatisasie, presisieboerdery, elektroniese ontledingskaarte en satellietbeelde het landbou na die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling geneem, maar dit alles kon nog nie daarin slaag om produksiepraktyke so te verander dat ons kos sonder chemiese ingryping verbou kan word nie.
Met toenemende druk vir volhoubaarheid en gesondheid, het dit tyd geword vir nuwe denke en nuwe produksiemetodes wat op ekonomiese skaal uitgevoer kan word.
Een van die metodes is akwaponika. Akwaponika is ’n produksiemetode wat ’n natuurlike rivierstelsel naboots met ’n balans tussen visse, plante en bakterieë.
Akwaponika word baie keer verwar met tradisionele akwakultuur en hidroponika, want dit bevat elemente van altwee, met die groot verskil dat ’n bakteriestelsel die derde element vorm wat alles in harmonie laat saamwerk.
Hier is die verskille en hoe dit werk:
1. Akwakultuur
Akwakultuur is boerdery met vis, skulpdiere, plante, alge en enige ander organismes wat in water leef. Natuurlike seevisbronne word al hoe minder en visboerdery is besig om wêreldwyd dramatiese groei te toon.
In Suid-Afrika is akwakultuur ook deur die regering aangewys as ’n sleutelontwikkelingsbedryf in landbou, maar dit groei baie stadiger as in die res van die wêreld. Die potensiaal vir groei is tans eindeloos.
Een van die groot uitdagings vir visboere is watergebruik. In ’n tradisionele akwakultuurstelsel moet tot ’n derde van die water gereeld vervang word en alles moet skoon en steriel gehou word. ’n Verskeidenheid filters, ultravioletligte en ontsoutingsaanlegte word gebruik sodat die water kan hersirkuleer.
In ’n akwaponiese stelsel moet jy baie van die tradisionele reëls vir akwakultuur by die deur uitgooi. Geen water word ooit weggegooi nie en skielik is bakterieë jou beste vriende!
2. Hidroponika
Hidroponika is die verbouing van plante sonder om grond te gebruik. Voeding van plante geskied deur die toediening van groeimengsels en chemiese voedingstowwe. Dit is gewoonlik ’n enkelgewasstelsel omdat die voedingstowwe spesifiek vir een plantsoort op ’n slag gemeng word.
Van die waterstelsels wat gebruik word, is drupbesproeiing, geutstelsels soos NFT (Nutrient Film Technique), dryfstelsels soos DWC (Deep Water Culture), AeroPonics en gruisbedekkings.
Hidroponika geskied meesal in beskutte omstandighede, soos tonnels en nethuise met grade van klimaatbeheer. Dit is intensief, benodig heelwat aanvangskapitaal, maar lewer baie meer produksie per vierkante meter as tradisionele stelsels.
In ’n tradisionele hidroponiese stelsel moet alles steriel en skoon gehou word.
Nog ’n uitdaging vir hidroponiese boere is watergebruik. As die water deur die stelsel gevloei het, moet dit weggegooi of heeltemal gesuiwer word, anders kan sekere voedingstowwe opbou tot gevaarlike vlakke vir die plante. Die water kan ook skadelike patogene bevat. So, skoon water en nuwe kunsmismengsels is telkens nodig.
In ’n akwaponiese stelsel moet jy ook baie van die tradisionele reëls van hidroponika by die deur uitgooi. Dieselfde water sirkuleer die hele tyd deur die stelsel en ook hier is bakterieë van jou beste vriende!
3. Bakterieë en ander mikrobes
Daar is drie bakteriestelsels of -prosesse om van kennis te neem:
3.1 Nitrifikasiestelsel: Dit is die omskakeling van die ammoniak wat deur die visse uitgeasem word in bruikbare nitrate. Twee tipes bakterieë is altyd aan die werk in die natuur wanneer daar ammoniak (NH³) teenwoordig is. Hoe meer ammoniak daar is, hoe meer word die bakterieë.
Nitrosamines bakterieë: Dit verander die ammonium in nitriete (NO²).
Nitrobakterie bakterieë: Sodra daar nitriete is, begin hierdie bakterieë groei en verander die nitrie-te in nitrate (NO³); die voedingstof wat plante nodig het.
Te veel ammoniak en nitriete in die water maak visse dood! Dit is noodsaaklik vir die visse dat hierdie bakterieë hulle werk moet doen.
3.2 Denitrifikasie-stelsel: Dis die omgekeerde proses waar nitrate omgeskakel word in stikstofgas en alkaliese toestande veroorsaak. Dit gebeur gewoonlik wanneer anaerobiese bakterieë oorneem. Dit is skadelike bakterieë wat kan ontstaan as ’n stelsel nie in balans is of reg opgestel is met voldoende water-vloei nie.
3.3 Heterotrofiese bakteriestelsel: Dit is die afbreek van soliede organiese materiaal, soos visontlasting en ongebruikte viskos, om koolstofdioksied, ammoniak en anorganiese stowwe vry te laat. Die water wat agterbly nadat die soliede stowwe opgelos is of uitgehaal is, is uiters mineraalryk en goed vir die plante. Mineralisering is ’n belangrike deel van die akwaponiese proses.
Mikrobes:
Daar is nog baie ander vorms van mikrolewe wat ʼn rol speel om balans in die natuur te behou en in ’n akwaponiese stelsel nooi ons hulle in.
Die organismes sluit in alge, soöplankton, fitoplankton, nematodes en nog vele ander. Dit is die prag van akwaponika – dit is ’n natuurlike ekostelsel met ’n verskeidenheid van biologiese materiaal wat in die natuur voorkom. Uiteindelik dra al die elemente by tot die voeding van die plante.
Die mikrobes in ’n akwaponiese stelsel is ook nie beperk tot ’n sekere plek of tenk nie – hulle werk deur die hele stelsel en vele studies het al bewys hulle maak jou nie siek nie.
Jy kan ook leer hoe om gesonde kos te verbou vir jou gesin of kommersieel vir ’n gesonde inkomste. Op 31 Augustus 2019 bied Kleinskuur Aquaponics naby Pretoria ’n kursus aan waar jy al die nodige agtergrond en inligting kan kry oor akwaponika. Bespreek by sales@ksba.co.za of besoek www.ksba.co.za vir meer inligting