AgriVie-koop-‘n-deel-van-Hygrotech
‘n Beleggingsmaatskappy wat as Agri-Vie bekendstaan het ‘n 37%-aandeel in Hygrotech gekoop. Hygrotech is by boere bekend as ‘n maatskappy wat gehalte groentesaad en verwante produkte verskaf.
Blykbaar sien Agri-Vie reuse uitbreidingspotensiaal in Hygrotech. “Ons is baie opgewonde oor die toekomstige groeigeleenthede wat Hygrotech bied. Die maatskappy beklee reeds ‘n leiersposisie in die groentesaadverspreidingsegment en brei ook sy produktereeks uit met gespesialiseerde intellektuele eiendoms-produkte”, sê Izak Strauss van Agri-Vie.
Habe Roode, die hoof uitvoerende beampte van Hygrotech, sê hoewel die maatskappy hoofsaaklik vroeër net saad aan die groenteboere van Suid-Afrika verkoop het, word boere wat vrugte en graan produseer toenemend geteiken met die verskaffing van ander produkte ook.
Die produkreeks sluit swamdoders, groeistimulante, bemesting en plantmanipuleerders in. Hierdie reeks word tans verder uitgebrei.
‘n Ander sterk punt van die maatskappy is sy span hoogsgekwalifiseerde kundiges wat verseker dat hulle aan die voorpunt van navorsing en ontwikkeling bly.
Hygrotech het die versekering gegee dat sy bestaande kliënte die middelpunt van sy produk-aanbieding sal bly. Mnr Roode sê: “Alle belanghebbendes, insluitende diegene verder af in die waardeketting word gereeld gepols om te verseker dat daar voortdurend aan hulle behoeftes voldoen word”.
Hygrotech hou volgende week ‘n reeks boeredae om sy nuwe saadontwikkelings aan boere bekend te stel en inligting te gee oor kultivarproewe.