Agribusiness Africa-konferensie: Boere kan wen met vryhandel in Afrika
Voedselhandel tussen Afrikalande kan ’n groot hupstoot kry met die vryhandelsooreenkoms (AfCTA of African Continental Free Trade Area) wat pas onderteken is. In 2015 is $63-miljard se kos van ander vastelande af ingevoer. ’n Groot deel van hierdie geld kan in Afrika bly as die lande hulle handelsbetrekkinge met mekaar opskerp.
Die positiewe uitwerking van AfCTA is deur ’n paar sprekers by die Agribusiness Africa-konferensie wat deur Farmer’s Weekly gereël is, uitgelig.
Professor Sidi Osho, voorsitter van FANRPAN (Food, Agriculture and Natural Resources Policy Analysis Network), het die invloed van klimaatsverandering op streekshandel in Afrika bespreek. Sy sê die bykomende inkomste wat lande kan skep deur uitvoere en die toegang tot tegnologie, kan Afrikalande help om klimaatsverandering beter te hanteer.
Die ooreenkoms is deur 54 lande onderteken met ’n totale bevolking van 1,2-miljard mense en ’n totale binnelandse produk van $3,4-biljoen. Daar word verwag dat veral die vervaardigingsektor en infrastruktuurontwikkeling baat sal vind by die ooreenkoms.
Gebrekkige infrastruktuur is egter een van die groot struikelblokke vir voedselhandel tussen Afrikalande.
Professor Osho sê die Wêreld Ekonomiese Forum het onlangs ’n lys vrygestel met die top tien risiko’s wat die wêreld in die gesig staar en uiterste weersomstandighede is bo aan die lysie.
Afrika se boere is veral kwesbaar as gevolg van gebrekkige toegang tot tegnologie.
Professor Osho sê die temperatuur kan in hierdie eeu met tussen 1,5 en 4°C styg.
Voorspellings dui op ’n 50%-verlaging in opbrengs en inkomste wat tot 90% minder kan wees teen 2100.
Stygende seetemperature kan ook ’n vermindering van 50 tot 60% in die produksie van seevisserye tot gevolg hê.
Sy sê benewens vryhandel kan AfCFTA ook op ander vlakke help om klimaatsverandering te hanteer. Die wêreldhandelstelsel het getoon dat regerings beleidstandaarde en ekonomiese aansporings kan instel, soos belastingvoordele en subsidies vir handel in tegnologie wat kan help met die hantering van klimaatsverandering.
“Met die aanvaarding van klimaatslim landboumodelle en minder handelsversperrings, het Afrika die potensiaal om stapelvoedsel ter waarde van ’n bykomende $20-miljard te produseer,” sê prof Osho.
Dr Tinashe Kapuya, handelsbeleid-adviseur van Business Unity South Africa (BUSA), sê groot verwagtings word gekoester van die vryhandelsooreenkoms. Handel tussen Afrikalande maak maar ongeveer 16% van die totale Afrika-handelsrekening uit. Dr Kapuya sê baie werk moet in Afrika gedoen word om markte en handel te konsolideer.
Een van die grootste struikelblokke vir handel tussen Afrikalande is omslagtige logistieke prosedures. Hy sê om een vraghouer van Kaapstad tot Luanda te vervoer, het in 2016/17 die volgende benodig:
- 56 doanehandtekeninge
- 84 doanestempels
- 83 dokumente met altesaam 634 bladsye
- 28 SAOG-sertifikate
- 5 fakture
Die oorhoofse tema van die konferensie was toegang tot markte van die plaas tot die bord en die hoof van die Johannesburgse varsproduktemark (Joburg Market), Ayanda Kanana, het in ’n begeesterende toespraak vertel watter rol die mark speel in landbou en om boere en handelaars van klein tot groot te bemagtig.
Hy het beklemtoon dat dit die Departement van Landbou se taak is om ontwikkelende boere by te staan met primêre produksie, maar dat die mark betrokke is by vele projekte en beplanning om die boere te help om hulle produkte te verkoop.
Die projekte gaan ook ’n groot hupstoot kry met die Metroraad van Johannesburg se besluit om R300-miljoen toe te ken vir verbeterings en uitbreidings aan die varsproduktemark. Die Mandela-mark wat reeds ’n tuiste bied aan kleinboere en -aankopers gaan uitgebrei word en daar is ambisieuse planne om verpakkingsaanlegte beskikbaar te stel aan boere wat nie hulle eie aanlegte kan bekostig nie sodat hulle op gelyke voet in die formele sektor kan meeding.
Ander planne is groter toeganklikheid tot elektroniese rekords van pryse en verhandeling met WiFi by die mark, vervoer om kleinboere in die provinsie te help om hulle produkte by die mark te kry en meer sekondêre sakebedrywighede rondom die mark. Ayanda het die private sektor uitgenooi om betrokke te raak by al die planne.
“Die produkte is reeds daar,” sê hy. Die mense is ook daar met ongeveer 11 000 aankopers wat elke dag op die mark rondbeweeg.
In hierdie stadium word 90% van al die produkte wat verhandel word steeds deur kommersiële boere voorsien en die oorblywende 10% deur sowat 200 000 kleinboere.
Joburg Market het ’n markaandeel van 44% van die produkte wat op markte verkoop word en daar is verlede jaar R8,2-miljard se produkte verkoop.
Jaco Oosthuizen van RSA Markagentskap het ’n vroegoggend draai by die mark gaan maak om vir konferensiegangers voorbeelde van produkte saam te bring en te verduidelik hoe dit gebeur dat daar sekere houers vrugte teen R60 stuk verkoop word en ander teen R46.
“Daar is plek vir almal op die mark,” sê hy. Aanbod en aanvraag bepaal die pryse en die inligting is alles tot boere se beskikking. Bepalende faktore wat die mark vir boere laat werk is gehalte, standvastigheid, handelsmerk en die feit dat dit onmiddellike kontant bied.
Hy het gepraat oor die toeganklikheid tot markte vir opkomende boere en kleiner aankopers en sê daar is plek vir plaaslike markte in gemeenskappe. RSA was by die vestiging van twee markte in die noorde van die land betrokke en binne 60 maande is daar ’n omset van R247-miljoen by die markte opgebou.
Net soos plaaslike markte, sal vryhandel oor grense in Afrika ook baie deure vir boere oopmaak. RSA is tans betrokke by die vestiging van markte in Zambië en Rwanda. As hierdie markte aan die gang is, beteken dit daar is toegang tot nog 20-miljoen gebruikers.
Van die ander sprekers by die konferensie het gepraat oor die beskerming van plaaslike bedrywe wat steeds belangrik sal bly, en dr Theo de Jager, president van die Wêreldboere-organisasie, het gesê boere wat dit kan regkry om die meeste produksie op die kleinste oppervlak met die minste insette te lewer, sal die suksesvolle boere in die toekoms wees.