Categories: NewsPublished On: 3rd March 2016

Agri Securitas help nog boere om te beveilig

By 1 min read

agri securitas logo

Sneeuberg en Samekomst in die Oos-Kaap en Heilbron in die Vrystaat se landbougemeenskappe het hulle veiligheidsmaatreëls opgeskerp met die geldelike ondersteuning van die Agri Securitas Trustfonds.

Ongeveer 400 boere en 3 400 plaaswerkers en hulle gesinne sal veiliger kan werk en woon. Dit volg nadat ‘n kommunikasienetwerk in die Sneeuberg-gebied en ‘n kameranetwerk en veiligheidshek in die Samekomst-gebied in werking gestel is. In die Heilbron-gebied in die Vrystaat, sal radio’s ingespan word vir verbeterde kommunikasie en kameras om toegangsroetes te monitor.

Die gemeenskappe is toenemend blootgestel aan huisrowe, diefstal van vee en plaastoebehore.

“Dit bly die strewe van die Trustfonds om met sy geldelike bydraes plaaslike boerderygemeenskappe by te staan om hulle teen misdaad te beskerm en hulle kwesbaarheid te verminder. Gebrekkige kommunikasie beperk gemeenskappe se vermoë om beveiligingsoptredes te koördineer en effektief op te tree in noodsituasies. Kamerastelsels het nie net ‘n afskrikwaarde nie, maar verskaf ook waardevolle inligting oor vermeende voertuie en persone wat ‘n gebied binnegaan. Die inligting word dan aan die polisie beskikbaar gestel vir verdere optrede en voorkoming van misdaad,”  sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds.

Boere en plaaswerkers dra by tot die plaaslike ekonomie en voedsel in Suid-Afrika. Die Trustfonds streef daarna om met sy geldelike ondersteuning ‘n veiliger landelike gebied te vestig om die gemeenskappe te beskerm.

Die Trustfonds gee in ‘n verklaring erkenning aan sy strategiese vennote, naamlik Nissan SA, Vodacom, Sanlam, CrisisOnCall, Sonfin en sy gholfdagborge; GWK, NWK, OFM en Senwes wat met hulle finansiële ondersteuning die werk van die Trustfonds moontlik maak.

Bron: Agri SA

0
0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0