Categories: NewsPublished On: 30th March 2011

Agri SA soek samewerking oor siektes

By 2 min read
417 words
Agri SA het sy steun toegesê aan ‘n poging om ‘n dieregesondheidsforum tussen almal wat belang het by dieresiektes op die been te kry. Dit volg nadat verskeie leemtes in die veterinêre infrastruktuur en dienslewering met die uitbreek van bek- en klouseer blootgelê is. 
 
Mnr Johannes Möller, president van Agri SA sê: “Die dilemmas wat met bek- en klouseer ondervind word, bied waarskynlik ‘n goeie geleentheid om die noodsaak vir beter samewerking tuis te bring en ‘n struktuur vir gekoördineerde optrede daar te stel. Daarom gee Agri SA met dringendheid aandag hieraan en steun sterk op die samewerking en insette van veebedryfsorganisasies soos die Rooivleisprodusente-organisasie, die SA Voerkraalvereniging, die Nasionale Wolkwekersvereniging, die Suid-Afrikaanse Varkprodusentevereniging, die Melkprodusente-organisasie en Wildbedryf SA.”
 
Die organisasie beoog om binnekort met hierdie organisasies se steun voorstelle oor ‘n formele dieregesondheidsforum met die minister van Landbou, Bosbou en Visserye te bespreek 
 
Volgens mnr Möller het die siekte sy oorsaak uit ontoereikende beheer van veebewegings uit endemiese gebiede en hoë getalle vakatures vir staatsveeartse wat vir regulatoriese beheer verantwoordelik is. Indien hierdie kwessies nie bevredigend hanteer word nie, kan daar ‘n groeiende risiko vir die veebedryf wees. 
 
Agri SA het ook die pro-aktiewe stappe wat Karan Beef geneem het om die moontlike voorkoms van bek- en klouseer in sy voerkrale in Gauteng te ondersoek verwelkom. Mnr Möller sê: “Ons het kennis geneem dat dié voerkraal virusvry bevind is en dat ‘n bestuursprotokol as voorkomende maatreël toegepas word. Met die groot getalle vee wat daar hanteer word, is dit ‘n verligting vir die veebedryf as sodanig”. 
 
Ondertussen vra die Rooivleisprodusente-organisasie dat die suidelike grens van die gebied in Kwazulu-Natal wat met bek- en klouseer besmet is, sou gou as moontlik bepaal moet word. Die RPO skryf in sy nuusbrief dat die Weermag op dié grens ontplooi moet word voordat dit aangekondig word. Sodoende kan verseker word dat besmette diere nie oor die grens gesmokkel word nie. 
 
Die organisasie raai boere aan om hul vee in die middel van hul plase te hou, en om buffels agter dubbele heinings aan te hou. Die RPO ondersteun ook die herinstelling van ’n dieregesondheidskomitee waarin verteenwoordigers van al die veebedrywe moet dien en ’n plan van aksie om verbruikers gerus te stel dat vleis veilig is.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0