Agri-SA-looi-geskiedkundige-wanvoorstellings
Kommersiële boere kan nie gebrandmerk word as sou hulle hul plase onregmatig bekom het nie, het dr Theo de Jager, visepresident van Agri SA in ‘n verklaring gesê.
Hy stel dit duidelik dat Julius Malema se opruiende wanvoorstellings geensins regverdiging vir die staat kan bied om boere van hulle plase te ontneem en min of selfs geen vergoeding daarvoor te betaal nie. Hy meen dit is ‘n benadering wat uiterse konflik uitlok en wat katastrofiese gevolge vir beleggersvertroue, voedselsekerheid en werkskepping inhou.
“Die ekonomiese politiek wat Malema verkondig is elders reeds mee ge-eksperimenteer en die rampspoedige gevolge daarvan spreek boekdele vir enige objektiewe en realistiese waarnemer.” Zimbabwe is een voorbeeld daarvan het hy gesê
“Ons is in ‘n sensitiewe politieke fase waarin politieke-, sake- en gemeenskapsleiers hulle moet uitspreek oor hulle verbintenis tot die uitgangspunte waarop ‘n suksesvolle Suid-Afrika gebou kan word en duidelikheid oor nasionalisering is ‘n belangrike element hiervan” het dr De Jager gesê.