Agri-Gauteng-besorg-oor-Duduza-slagoffers
“Duduza is ons bure en in die landbou help bure mekaar as die een in nood verkeer”. Só het André Botha, president van Agri Gauteng gesê nadat talle inwoners van die swart woonbuurt se huise en besittings die afgelope naweek deur ‘n tornado verwoes is.
Hy het gesê dat die reaksie met voedselhulp-aanbiedinge onmiddellik en oorweldigend was en dat hy waardering het vir die medemenslikheid van lede van sy organisasie.
Die eerste hulp is Maandag al spontaan afgelewer voordat die hulpinfrastruktuur behoorlik op die been gebring is. Mieliemeel, mielies, eiers, groente ensomeer is reeds geskenk en met die hulp van Ekurhuleni Metro se rampbestuurpersoneel onder die slagoffers versprei.
Boere in die Kliprivier-, Heidelberg- en Nigelgebied het ook skade weens die naweek se storms gely.
Agri Gauteng het boere in die gebied versoek om verder te help met die verligting van die slagoffers se nood aangesien die probleem nie na ‘n week opgelos sal wees nie.