Categories: NewsPublished On: 27th November 2011

Afvaardiging-gaan-na-VN-oor-plaasmoorde

By 1 min read
198 words
ʼn Afvaardiging van die burgerregte-organisasie AfriForum gaan in die komende week die Verenigde Nasies se Menseregteraad se Forum oor Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland, bywoon, om die krisisafmetings wat plaasmoorde in Suid-Afrika aanneem, onder die internasionale gemeenskap se aandag te bring.
 
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal ook by die geleentheid eksemplare van die Engelse weergawe van die boek Treurgrond, wat handel oor plaasaanvalle in Suid-Afrika, aan die sekretariaat van die VN se Menseregteraad en ander prominente internasionale rolspelers oorhandig. 
 
Volgens mnr Kriel is AfriForum se teenwoordigheid op die konferensie ʼn volgende stap om die skending van mense- en minderheidsregte in Suid-Afrika aan die internasionale klok op te hang.
 
“Die regerende party se besluit om liedjies en slagspreuke wat moorde op Afrikaners propageer, saam met Julius Malema in die hof te probeer verdedig, is ʼn duidelike aanduiding dat die Suid-Afrikaanse regering nie omgee oor die feit dat meer as 2000 mense sedert 1994 in plaasaanvalle vermoor is nie,” het mnr Kriel gesê. 
 
Volgens mnr Kriel is dit tyd dat die regerende party verantwoording aan die internasionale gemeenskap moet doen oor hulle regverdiging van haatspraak teenoor boere, terwyl tientalle boere jaarliks vermoor word.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0