AfriForum wil weet: Waarom die hoë tolgeld?
Die burgerregte-organisasie, AfriForum wil weet waarom daar eers geleentheid geskep is om insette oor die nuwe toltariewe te lewer nadat dié tariewe reeds deur die minister goedgekeur is.
“Die publiek verwag deursigtigheid, veral wanneer owerhede besluite neem wat gewone mense se sakke hard gaan slaan,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum gesê.
AfriForum het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) amptelik in terme van die Wet op Toegang tot Inligting versoek om alle inligting wat gebruik is om nuwe toltariewe vir Gauteng se hoofweë te bereken, openbaar te maak. Hulle beoog om dié inligting deur kundiges laat ontleed om vas te stel waarom die tariewe so hoog is.
Die organisasie se optrede volg nadat die minister van Vervoer, S’bu Ndebele, aangekondig het dat die regering insette van belanghebbendes rakende die toltariewe sal oorweeg.
Meneer Kriel sê dit is onaanvaarbaar dat die nuwe toltariewe vasgestel is sonder om motoriste en verbruikers van goedere wat op die tolpaaie vervoer word, te raadpleeg.
Die tolgeld sal na verwagting boere wat produkte na veral die varsproduktemark in Johannesburg en kettingwinkelgroepe aan die Rand vervoer, se sakke kwaai ruk.