Categories: NewsPublished On: 4th July 2011

Aan Jannie

By 7 min read
1405 words
deur GC en SB Hobson, uitgegee deur JL van Schaik (Bpk), Pretoria
 
Boerdery is een van die sterkste voedingsare en stewigste hoekstene van ons letterkundige skatkis. Dit bewys dat die boer nie net voedsel vir die liggaam produseer nie, maar ook voedsel vir die gees.
 
Dit is geen wonder nie, want boerdery is die bedryf wat die reguitste denke, die taaiste terugspringkrag en die suiwerste siel vereis van dié wat met hom gemoeid is.
 
Boerdery bied ook die verstommendste verwondering en die onverbiddelikste eis om nederigheid – alles die materiaal waarvan die grootste letterkunde geskep word.
 
Een van die kosbaarhede wat boerdery in ons letterkunde gevestig het, is Aan Jannie, briewe van ‘n ou boer aan sy jong seun op universiteit. Hierdie boek is in die veertigerjare van die vorige eeu uitgegee, maar die wysheid en pittigheid daarin is tydloos.
 
In die voorwoord skryf “Jannie” oor sy pa se briewe: “As ek party van die stukke so beskou, lyk dit of hy maar sy gedagtes oor sake wat ek aangeroer het, vir my op skrif wou stel. Aan ander stukke te oordeel het hy maar, pen in die hand, aan die oopwêreld sit en dink, waarna hy al hoe meer en meer verlang het namate sy kragte afgeneem het en hy begin besef het dat hy en Augus die muile nooit weer sou aankeer en inspan nie.”
 
Goeie nuus vir ons lesers is dat Boer-se-boek die hele boek, Aan Jannie, voortaan stuksgewys op ons webwerf, www.proagri.co.za, sal gepubliseer – elke week ‘n stukkie:
 
Aan Jannie
 
Die breedte van ‘n woelige hoofstraat met ‘n stuk varkwors afmeet, is mos sommer ‘n gevaarlike besigheid!
 
Jou ma voel net omgekrap daaroor. Sy sê dis ‘n skandaal dat sulke ontgroeningseremonies of wat julle die dopery daar op die universiteit ook noem, deur die professore toegelaat word.
 
Vir my is daardie ontgroening-affêre nie onnatuurlik nie. Het jy al opgemerk as jy ‘n vreemde bees onder ‘n trop plaasbeeste inja, dat die laaste plaasbees dadelik met gekromde rug naderstaan?
 
As die vreemdeling vlug, gaffel hulle hom in die verbyspring met die horings; as hy hom teësit, pak hulle hom aan. Of hy nou mak is of wild is, oud of jonk, wit of swart, as hy maar vreemd is, word hy gestamp en gestoot en met die horings gesny dat die houe oor sy ribbes lê.
 
By Joors Smit Mieliebult, op die plaas, was ek eendag toe die ou ‘n varkie wat hy van ‘n swarte gekoop het, onder sy vetmaakvarke inja.
 
Die ou varkie was half hans en so mak en onnosel as maar kan kom. Maar hy was skaars in die vetmaakkamp of die hare waai soos die ander hom met die slagtande byloop. Ou Joors was maar verplig om die ding uit te haal; anders was hy morsdood.
 
Hoe meer uitgelate so ‘n trop diere, hoe swaarder kry die nuweling. Daarom dat hy dit so hotagter het daar by julle wat so in die fleur van julle leeftyd is.
 
As die droogte kom en die wêreld druk, bedaar die beeste. Maar selfs by die oudste en verstandigste onder ons maak onbekend nog steeds onbemind. Die stampe en stote van die lewe maak ons net versigtiger; leer ons net om ons gevoelens nie so vrye teuels te gee nie.
 
Ek is bly om uit jou brief te verneem dat jy die stuk varkwors toe maar gaan koop het en die straat afgemeet het. Ons Steyns is verstandige mense. Hou maar moed. Slegte moed, sê hulle, kom vanself. Dit sal nie lank duur nie. Net een van die dae trek jy ook soos hulle aan, loop jy ook slenter-slenter hand in die broeksak, kry jy die egte tropruik en dan stoot die ander jou nie meer nie.
 
Dis maar stil hier op die plaas vandat jy weg is. Maar jou ma is reg. Jy moet ook kans kry, nie soseer om boekgeleerdheid op te doen soos sy wil hê nie, maar om mense te leer ken. Miskien kry jy vir albei daar in die Boland kans.
 
Maar as jy nie vir albei kans sien nie, los dan maar liewer die boeke. Vir ‘n man soos jy wat nie met sy kop hoef te verdien nie, is daardie baie boekgeleerdheid onnodig.
 
Ek kom nou weer bedags op die stoep. Die stootkarretjie wat jou ma laat kom het, is ‘n groot gerief en hier bo van die stoep af kan ek darem op ‘n manier sien wat op die plaas aangaan.
 
Die bediende bring koffie. Jou ma kom by my sit en kouse stop. As die gesels opraak, lees ek. Maar selfs die lees word naderhand vervelig, en nou die dag wou jou ma weet waarom ek nie maar af en toe skryf nie. Sy sê ‘n man wat lekker vertel, behoort ook lekker te kan skrywe.
 
Vir daardie te-boek-stel van my ondervindinge waarvan sy praat, het ek regtig nie lus nie; ook nie die daartoe nodige vaardighede met die gansveer nie. Om die waarheid te sê, as ek so ‘n ruk geskryf het, word die ou hand sommer so lam hier tussen die duim en die voorvinger.
 
Jammer darem, want my spore lê ver: die kaiingbulte oor tot onder op Onseepkans; van Upington af ál met die Molopo op; van Mamusa af Morokwen oor die Kalahari in; van Uitenhage na Brekfisvlei en daarvandaan die berge deur tot diep in die kapok op Barkly-Oos; Madeagam, Motsitlane en die konvensielyn oor… te voet, te perd met kar en donkies, kar en muile, kar en perde; met ysterbande om die wiele, met motorbande om die die wiele; naderhand glad per motor. Wat het die weelde tog nie in my leeftyd toegeneem nie!
 
Ek het geboer en gespekuleer; skape en beeste gekoop en verkoop; perde, muile, donkies; geld gemaak, geld verloor; beeste uit Suidwes die woestyn geja Vryburg toe; troppe-troppe uit die Protektoraat gesmokkel en op Ramatlabama gaan laai… Dit is half jammer dat ek so ‘n hekel aan die gansveer het. 
 
As ek dan regtig te lui is om my ondervindinge te boek te stel, sê sy, moet ek darem skryf en my seun vertel waar sy pa hom oral vasgeloop het. Dan sal my seun van my ondervinding leer.
 
Maar jou ma verstaan die mensdom nie. Al sou ek jou ook waarsku teen die balk waarteen ek my kop gestamp het, sou jy tog maar eendag jou eie kop teen daardie einste balk gaan probeer, al sou dit maar wees om te sien of die balk werklik so hard is en of dit nie maar jou pa se kop is wat so sag was nie.
 
Augus het vanmôre lank hier by my staan en gesels. Hy het die saak nie eintlik aangeroer nie, maar ek kon sommer sien dat die rustige lewe hier op die plaas, die lank op een plek bly sit, die ou begin te verveel. Hy verbeel hom dat dit net sy oubaas se siekte is wat hinder; anders sou ons twee die muile weer ‘n slag aankeer.
 
Ek weet ook nie so bra of hy dit mis het nie. ‘n Mens is maar snaaks. Dis ongerieflik op die wapad. Jy is naderhand maar vader-dankie-bly om weer by die huis te wees. Maar jy is skaars uitgerus of die wêreld begin vir jou nou word en jy dwing alweer die wapad in.
 
Daarom dat ek afgesien het van my plan om jou ‘n slag met Augus die Noordweste in te stuur. Dis miskien beter as jy nie van die wapad weet nie. ‘n Boer moet kan stilsit. Sy plek is by sy vee. Ver van jou goed en na aan jou skade, sê die oumense, en verdraai “Ver van jou God en na aan jou skande”.
 
Maar hulle weet waar hulle van praat. Die boer se spoor op die land is tog maar die beste kunsmis. Dis die baas se oog wat die hings vetmaak, nie die opdrag wat hy aan die staljong gee nie.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0