Aan Jannie: Verdwaal
Die boek, Aan Jannie, is geskryf deur GC en SB Hobson en uitgegee deur JL van Schaik (Bpk), Pretoria
Jannie Steyn, ‘n eerstejaarstudent, se gryse pa skryf vir hom van die plaas af:
Aan Jannie
Waarom julle nou juis so laat die middag moes gaan bergklim, weet nugter. Maar ek is bly dat jy die verstand gehad het om te gaan stilsit en vuurmaak toe dit donker word, ander kon julle ‘n krans afgeduiwel het. Jou ma sê dis ‘n bestiering dat dit nie dag nie gereën het nie.
Toe ek nog so hot en haar gespekuleer het en so moes spook om geldjies bymekaar te kry, kom ek een middag op ‘n plasie voor dooiemansdeur te lande. Dit was die jaar met die rebellie. Die man se windpomp het stukkend langs die boorgat gelê; sy vangdam was dolleeg. Lankal met vee en al gevlug, dink ek by myself en besluit om maar deur te stoot en by ou Swaar Lawaai op Rooimodder te gaan slaap.
Dit was ver na die ou toe (die plase in daardie dele is mos almal so tien-, twintigduisend morge groot) en ek was onseker omtrent die uitdaaipaaie, want ek het die pad toe nog maar eenmaal gery, die jaar vantevore, van Rooimodder af, nie na Rooimodder toe nie, en ek moes die nag uitvind dat ‘n man ‘n ent pad maar bra sleg ken as jy hom nog net van een kan af gery het.
Paaie wat die jaar vantevore van agter af ingekom het en waar ek skaars op gelet het, begin die nag wawyd voor my in die maanlig uitdraai. Êrens moes ek verkeerd gery het, want toe ek meen dat ek al daar kan wees, kom ek meteens op ‘n landmeterbaken uit wat ek glad nie ken nie en wat aan die gate te oordeel wat die meerkatte onder die klipstapel ingegrawe het, al van toeka se dae af daar staan.
Plaas van terug te draai (‘n man ry nie maklik op sy spoor terug as hy al ‘n sestig, sewentig myl agter die rug het nie; dis dwaas, maar die ou mensdom is nou eenmaal so), plaas van terug te draai, gee ek die Fordjie maar stoom.
‘n Entjie vorentoe draai weer ‘n pad uit. Dié vat ek. Ver voor vat ek weer links. Naderhand weer links. Die paadjie wat ek gevat het, word al hoe dowwer; word eindelik tot my ontsteltenis ‘n voetpad en loop op ‘n ou-werf dood.
Al wat van die woonhuis daar op die kaalte oorgebly het, was net die verweerde buitemure, eensaam en verlate in die maanlig; en effens regs, skuins teen ‘n klip, het ‘n verroeste, halfslyt ploegskaar gelê, wat my snaaks voorgekom het in ‘n wêrelddeel waar die mense nie ploeg nie.
My velkombers was al klaar voor langs die motor oopgegooi toe ek water hoor drup en meteens agterkom dat die ou Fordjie se verkoeler lek. Nou ja, dis onnodig om end-uit te vertel. Maar daar kom tye wanneer ‘n man wat verdwaal, dit nie kan bybring om te gaan stilsit en wag totdat dit lig word nie.
Toe ek die anderdagmôre by ou Swaar Lawaai glad van die verkeerde kant af inkom, vra die ou of ek nie nog ‘n bottel by my op die kar het nie, wat my eers ‘n bietjie gehinder het; maar as jy ‘n boer se werf son-op se kant inry en hom dan vertel dat jy van sononder af kom, kan hy maklik snaakse gedagtes kry.
Jy sê julle het verdwaal omdat ‘n medestudent die name op die predikantjie onderaan die berg omgeruil het. Dit kom daarvan as jy jou op ‘n predikantjie verlaat. Dis ‘n dooi ding wat alte maklik omwaai of skeefstaan en self nie weet watter rigting hy aanwys nie. Ou Saks op die dorp sê die ding het die naam gekry omdat hy die weg wat hy aanwys, nie self bewandel nie.
Hier by ons kan dit nog gaan. Die mense wat die goed inplant, ken die paaie; en ons wat ry, ons ken darem ook die paaie. Maar daar by julle waar daar soveel dorpenaars is en waar byna soveel predikantjies staan as wat daar kerke is, kan dit ‘n vreeslike deurmekaarspul afgee.
As jy die pad nie ken nie, vra liewer ‘n mens, iets wat kan praat, ‘n boer of ‘n ou jong langs die pad, ‘n polisieman of enige soort mens; net nie ‘n vroumens nie. Omdat dié nie self ry nie, help sy jou gewoonlik van die wal in die sloot.
Daar is baie soorte padbeduie in hierdie ou wêreld. Die een ken die pad nie en hy sê jou sommer dadelik dat hy nie die pad ken nie. Hy is spyt, maar hy het die pad lanklaas gery. Aan so ‘n man is jy dank verskuldig.
‘n Ander weet ewe min van die pad af, maar beduie darem. Hy help jou weg, al is jy op die verkeerde pad.
‘n Derde sê links, maar bedoel regs.
‘n Ander beduie die eerste regs en wys ook mooi met sy regterhand dat hy regs bedoel, die eerste regs, maar vergeet die houtrypaadjie wat kort deeskant ook regs uitdraai en wat sy volk onlangs met hulle houtryery vol spore getrap het.
‘n Ander beduie jou glad deurmekaar: die tweede aan die linkerkant, sê hy; dan die eerste wat regs kom, en as Neef so ‘n ent gery het, weer die derde regs. So ‘n vent moet die die pad liewer vir jou laat afstreep. Vra hom dan ook sommer hoe die wêreld daar by die uitdraaiplek lyk. Staan daar bome? Draai die pad by ‘n pan uit? Of miskien by ‘n dam? Teen ‘n koppie of in ‘n laagte of sommerso op die kaalte? Draai die pad geleidelik uit of slaan die pad sommer half-dwars weg of hoe?
As jy dan by ‘n pad kom waarvan hy vergeet het om jou te vertel of waarvan hy nie geweet het nie, weet jy minstens dat dit daar nie lyk soos die uitdraaiplek wat hy gesê het jy moet hê nie.
Al man wat jou dan nog op die verkeerde pad sal bring, is die ellendige vent wat jou verseker dat daar maar net die een pad is. “Ja, ou Neef, net een pad. Hou maar reguit. Moet net nie uitdraai nie.”
Ek het een slag ‘n klompie hamels by Loffie Pertoors Lawaaivlakte gekoop; pragtige goed, sommer sulke knewels; en toe ek die middag wegry, beduie die ou: “Al met die boomlaagte af, Neef, al aan die hotkant van die boomstreep tot tot daar oe…ner by die vaal dammetjie.”
Aan die lang-rek van die oe…ner verstaan ek ook sommer dat die vaal dam ver lê. “Daar by die dam breek die pad.”
“Hoe nou, Oom?” val ek hom in die rede. “Het die vee dan die pad daar by die dam doodgetrap?”
“Nee, Kêrel, die pad breek. Die een stuk gaan na Sonderwater. Dis die ander stuk wat jy moet hê, die stuk na Kameellaagte toe.”
Dis daardie einste Loffie Pertoors wat my eenslag omgepraat het om ‘n jong by my op die motor te laat klim om my die pad te wys. Ek wou die middag na Stofbakkies toe. Die pospad het ek geken, maar omdat dié die ene sandduin was, wou ek ‘n ompad probeer.
Die motor het glo vir die jong te vinnig gery, want toe ons so by die tagtig myl agter die rug het en meteens op ‘n uitdraaipad afkom, is hy totaal uit die veld geslaan: “Ek weet regtig nie, my Baas. Ja-nee my Baas, die pad ek ken hom, maar hierrie ding loop vinnig. Ek weet nie of ons nog vandag se skof ry nie en of ons altemit al môre se skof ry nie.”
Ek los toe die uitdraaipad, want ons was na my sin nog nie ver genoeg om die duine nie. Maar die volgende wat regs draai, vat ek en sodoende ry ek my vas in die onderpunt van die einste reeks duine wat ek graag wou vermy.
Daardie jong se varkies was nie almal in die hok nie. Maar hy was so sterk soos ‘n bees. Elke keer wat ons vassit, sê hy net ek moet die motor in eerste versnelling sit of, soos hy dit uitgedruk het, die ding weer so brul-brul laat loop, en dan stoot hy dat die ou Fordjie se agterstel sommer so wip.
Sy varkies, soos ek vaneffe gesê het, was nie almal in die hok nie, maar op so ‘n plek waar daar ure lank gespook en gesukkel word, is dit half ‘n goeie ding as ‘n skepsel nie die verstand het om sy lyf weg te steek nie.
Jou ma sê jy moenie so in die veld rondstap nie. Sy het jou universiteit toe gestuur om te leer.
Dit kan wees. Maar jou ma verstaan nie die wêreld nie. Wat ‘n man met jou rondgang leer, met jou omgang met ander, is vir my nuttiger as die goed wat jy uit ‘n boek leer.